Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Inwoners van Adamayview, Flamwood, Wilkoppies en La Hoff het die afgelope langnaweek onbeplande kragonderbrekings gehad en wyksgroepe het gegons om die oorsaak vas te stel.
Volgens kol Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het kabeldiewe substasies gevandaliseer en een is vasgetrek met koperkabels in sy besit. "Die polisie het vroegoggend Saterdag 3 Mei h/v Elmstraat en Chris Haniweg ‘n 23-jarige man betrap met kabels in sy besit. Hy het glo al op 28 April van die kabels gesteel,” sê sy.
Katleho Lepai (23) het op 5 Mei in die hof verskyn. Hy is aangekla van saakbeskadiging van infrastruktuur. Die saak is uitgestel tot 12 Mei. Hy bly in aanhouding.
Flamwood Buurtwag en elektriese spanne het gehelp om die skelms te vang. Redelike skade is aangerig en sommige gebiede was vir dae sonder krag. Elektriese spanne van die munisipaliteit moes bontstaan om die krag te herstel en sekere buurte is nog blootgestel aan sporadiese kragonderbrekings.
Volgens rdl Gerhard Strydom is substasies in Malepestraat, Flamwood en by die Fountain Circle in Adamayview ook beskadig en ‘n substasie in Fransstraat, La Hoff is verwoes.
Die polisie het omstreeks 06:30 op Maandag 5 Mei ‘n taxi op die N12 by Klerksdorp voorgekeer met amper ‘n ton kragkabels in. Hy was glo vanaf Bloemhof na Johannesburg onderweg.
Volgens kol Myburg het die polisie ‘n wenk ontvang van die voertuie wat deur Klerksdorp sou ry. “Eers is ‘n Fortuner afgetrek met sewe mans in - almal onwettg in die land. Hulle is in hegtenis geneem en sal waarskynlik dedeporteer word. Geen kabels was in die Fortuner nie. Toe is die taxi gestop met sowat 938kg kabels in.
“Dit is glo die vorige aand by Transnet gesteel. Daar was twee insittendes, een het weggehardloop en een is gevang. Hy sou op Woensdag 7 Mei in die hof verskyn.”