Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - Die feit dat hulle alles oornag verloor het, het nog nie behoorlik ingesink by die De Kock-egpaar van Adamayview nie. Hul huis het Vrydagnag 2 Augustus afgebrand.

Mariette de Kock is nog oorweldig deur die Klerksdorp-gemeenskap se hulp en bystand na die brand wat die huurhuis in Violetstraat in puin gelê het. Terwyl sy gesels wil-wil die trane haar oorweldig. 

 

Hulle het Sondagaand 4 Augustus reeds nuwe blyplek gekry en kon met meubels wat deur weldoeners geskenk is, begin om hul nuwe lewe weer stuk vir stuk bymekaar te kry. “Ek kan nie genoeg dankie sê nie. Die hulp was ongelooflik en ons gemeenskap, veral die wykskomitee se mense het ons omarm met hul goedhartigheid. 

“Ek is net hartseer oor my vier hondjies, ek hoop hulle lewe nog,’’ begin sy huil.

Mariette, wat onlangs haar werk as verpleegster in Wilmedpark se teater bedank het, en haar man het Vrydag “vir die eerste keer in jare vir die naweek weggegaan’’. Hulle was by familie in Odendaalsrus toe die oproep na middernag kom dat hul huis in ligte laaie is. “Die brand het blykbaar in ons slaapkamer uitgebreek. Ons het hierheen gejaag, maar nou ja. Dit was blykbaar binne minute verby, en die brandweer het glo so gesukkel met water so daar was nie ‘n kans nie.’’

Op Maandag 6 Augustus het sy en haar man deur die puin gaan vroetel om te kyk of daar iets is wat gered kon word. Hy het van sy gereedskap in ‘n skottel bymekaargesit en sy het gekyk of sy nie die hondjies wat in die huis toegesluit was, se oorskot kon kry nie. Tevergeefs. Dit laat die hoop ontstaan dat die hondjies dalk die vlamme ontsnap het. 

Die egpaar het vir vyf jaar die huis gehuur. Twee tuinwoonstelle agter in die erf het die vlamme vrygespring, maar een van die huurders se motor het in die motorhuis uitgebrand.

Mariette is baie emosioneel. “Alles, alles wat ons in die lewe bymekaar gemaak het, is in die brand verwoes. Ek weet nie hoe dit kon ontstaan nie. My ma se meubels, wat erfstukke was, het uitgebrand. Ek het niks van haar oor nie.’’

Sonder om te bedel of om iets te vra, het sy gesê hulle sal enige hulp waardeer. Hulle het reeds huur vir Augustus betaal in die huis waarin hulle nou nie kan bly nie en om weer op hul voete te kom na die terugslag, sal ‘n ruk duur. As jy kan help, al is dit ‘n geskenkbewys vir kruideniersware of ‘n koevert met kontant, skakel Mariette by 071 350 3014.

Dit is nog nie seker hoe die brand ontstaan het nie. Die brandweer sou ‘n verslag opstel wat nog nie beskikbaar is nie.