Klerksdorp Rekord, Stilfontein - Die geluksgodin was aan die Bosmans van Stilfontein se kant toe hul motor binne ‘n uur nadat hy gesteel is, teruggevind is.
“Dit het alles so vinnig gebeur,’’ vertel Annelie Bosman van Cilliersstraat. Sy was besig om voertuie in haar oprit te skuif toe ‘n motordief ‘n kans waag om in die Ford Icon te klim wat in die hek staan. Die motorsleutels het op die passasiersitplek gelê.
“Hy kon seker nie sy geluk glo nie. Ek het drie motors geskuif, die bakkie in die motorhuis geparkeer en toe my man se Mercedes onder die afdak, want hy moes binnekort werk toe ry. Ek sou die Icon wat ek tot binne die hek getrek het, langs die Mercedes in trek. Toe ek uit die motorhuis uitstap toe hoor ek ‘n motor hard ref.
“Ek het eers gedink dit is die bure wat sukkel met hul motor, maar die volgende oomblik toe reverse my Icon teen ‘n spoed en hoë refs by my erf uit en jaag weg.’’
Dit was 18:25 op Maandagaand 10 Februarie. Annelie het in die huis in gehardloop om haar man te roep terwyl bure wat die geraas gehoor het, dadelik die buurtwag en polisie gebel het. “My man het nog geslaap, want hy werk nagskof en het kaalvoet in sy motor gespring om die dief agterna te sit. Die buurtwag was soos blits daar en sekuriteitsmaatskappye en hulle het oral uitkyke gegee vir die gesteelde motor.’’
Sy vertel dat boodskappe ingekom het soos almal die motor in die dorp sien ry het. Die dief het heeltyd in eerste rat gery en ‘n paar keer teen sypaadjies vasgejaag. Die motor is uiteindelik so 5km verder by die Matlosana Diereskuiling gekry.
“Die motor het uitgesny weens die anti-kapings meganisme en hy kon nie verder ry nie. My man het hom toe net opgespoor en die skelm gryp toe die karsleutels en hardloop die veld in. Hy het weggekom, want my man was kaalvoet en het toe hy hom agternasit in ‘n bos dorings getrap. Die kar het darem nie skade gehad nie, net die rims wat gebuig het soos hy in die sypaadjies vasgery het.’’
Lizelle kan die buurtwag nie genoeg bedank vir hul optrede nie. “Almal was so betrokke en behulpsaam. Selfs toe my man later nagskof gewerk het, was hulle heeltyd daar om my veilig te laat voel. Baie dankie. Ook aan die sekuriteit en die polisie.’’
Sy is bang die dief kom terug om die kar te vat omdat hy die sleutels saam met hom het. “Dit beteken ek los die kar nou nêrens alleen in die dorp nie, en bêre hom agter slot en grendel.’’