Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Gesinshuis in Wilkeville het die afgelope naweek afgebrand.
Die groot grasdakhuis in Clairestraat was laatmiddag Saterdag 8 Februarie in ligte laaie. Die vermoede bestaan dat ‘n kortsluiting die brand veroorsaak het. Lisa Coetzee en haar tweeling dogters, Chenique en Chané was in die huis toe die brand ontstaan het.
Klerksdorp Rekord het verneem dat Lisa in die hospitaal opgeneem is waar sy behandeling ontvang het. Sy is reeds ontslaan. Sy het aan Klerksdorp Rekord gesê sy is verstom hoe die gemeenskap hulp aanbied nadat hulle bykans alles in die brand verloor het.
“Almal is so gewillig om te help. Ons is so dankbaar vir almal.’’
Onderwysers en leerlinge van KHS waar die twee meisies in hul matriekjaar is, het vroeg die week geskarrel om hul skoolboeke te vervang en skryfbehoeftes te kry.