Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

NOORDWESTER – LICHTENBURG - Griep is ‘n virusinfeksie wat simptome soos koors en kouekoors, nies, hoes, loopneus en ‘n seer keel veroorsaak. Sommige mense kan spierpyne ondervind, moegheid en hoofpyn hê. 
Griep kan vir sommige mense ernstig wees, maar as jy andersins fiks en gesond is, hoef jy gewoonlik nie ‘n dokter te gaan besoek nie. Daar is ‘n entstof beskikbaar vir griep, en dit word aanbeveel dat almal ouer as ses maande elke jaar ‘n griepinenting het. Jy kan die simptome van ligte griep behandel deur te rus en baie water te drink. Medisyne is beskikbaar om koors en pyne te behandel.

Verkoue en griep is baie aansteeklike virusinfeksies en jy kan enige tyd van die jaar verkoue of griep opdoen, nie net in die winter nie - maar dit is meer algemeen gedurende die wintermaande. Dit kan wees omdat mense meer geneig is om binnenshuis te bly en in noue kontak met mekaar te wees.
As jy verkoue of griep het en nies of hoes, word klein druppeltjies vloeistof wat die virus bevat, in die lug gelanseer. Hierdie druppels versprei ongeveer ‘n meter en hang ‘n rukkie in die lug sodat dit ingeasem kan word deur iemand anders wat dan besmet kan raak.
Hierdie klein druppeltjies vloeistof kan ook op oppervlaktes beland. Enigiemand wat aan hierdie oppervlaktes raak, kan verkoue of griep opdoen as hulle die virus met hul hande aanraak en dan aan hul neus of mond vat.
As jy verkoue of griep het en jy raak aan jou mond of neus en raak dan aan ‘n persoon of voorwerp sonder om eers jou hande te was, kan jy die virus na daardie persoon of voorwerp oordra.
‘n Droë hoes
As jy gesukkel het om ‘n virus af te skud, moontlik ‘n verkoue of dalk selfs Covid, sal jy alte vertroud wees met ‘n droë hoes. Dit kan jou slaap versteur - aanhoudende hoes irriteer mense later. Die oorblyfsels van ‘n verkoue is nie die enigste oorsaak van ‘n droë hoes nie, wat ‘n frustrerende seer aan die agterkant van die keel kan veroorsaak. Oor die algemeen is geen slym teenwoordig nie, anders as dié van ‘n nat hoes.
Droë hoes wat langer as drie weke duur, moet ondersoek word vir ‘n moontlike ander oorsaak. Droë hoes kan ook deur allergie of asma veroorsaak  word. In sommige gevalle kan suurrefluks - wanneer maagsuur na die keel beweeg - die skuld kry. Wanneer jy net by die huis hoes, nie by die werk nie, kan dit iets in die lug wees.
‘n Nat hoes
Die meeste mense wat ‘n nat hoes het, sal dit as ‘n hoes in die bors beskryf. Dit word gewoonlik veroorsaak deur slymproduksie in die oor of slym as gevolg van ‘n infeksie, griep  of verkoue.  As dit deur ‘n verkoue veroorsaak word kan dit snags verlig word deur op ‘n hoër kussing te slaap. Om baie water te drink om die slym los te maak kan dit makliker maak om te hoes. ‘n Warm suurlemoen- en heuningdrankie is ook goed om die seer keel te verlig wat so dikwels met ‘n gekielie gepaard gaan. 
Alhoewel dit gewoonlik deur virusinfeksies veroorsaak word, kan die seisoenale roes van hooikoors ook ‘n nat hoes veroorsaak.
Post-nasale drup, wanneer die slym stadig in die agterkant van jou keel drup, kan veroorsaak dat mens die behoefte ervaar om te wil hoes. As jy ’n neussproei gebruik en baie water drink, kan dit help om dié nat hoes te verlig.
‘n Borshoes word egter nie altyd veroorsaak deur verkoue of infeksie nie. In sommige gevalle kan dit veroorsaak word deur ‘n harttoestand. Jy kan ‘n hoes hê wat verband hou met hartprobleme, veral as jy vloeistof op die bors het. As jy ook kortasem of enkelswelling het en jou simptome vererger word deur oefening, moet jy jou huisdokter besoek.
‘n Chroniese hoes
‘n Chroniese hoes kan ‘n verskeidenheid oorsake hê, insluitend asma, allergieë, ‘n post-nasale drup en suurrefluks. ‘n Aanhoudende hoes kan ook die gevolg wees van rook.
Indien jy drie weke of langer met ‘n aanhoudende hoes sit, moet jy jou  huisdokter besoek. Dit mag ‘n teken wees van ‘n ernstiger toestand, soos longkanker, hartversaking of tuberkulose. Dit is baie algemeen, maar kan mense in hul daaglikse lewe beïnvloed, assok slaappatrone en eetlus. Maar dit is belangrik om bewus te wees van die ‘rooi vlag’-simptome wat ‘n teken kan wees dat iets ernstiger ter sprake is. ‘n Aanhoudende hoes, gewigsverlies, nagsweet en ook bloedhoes is moontlike waarskuwings-tekens van longkanker wat deur ‘n dokter ondersoek moet word.