NOORDWESTER – LICHTENBURG – SAVF is op 19 Oktober 1904 gestig aan huis van Annie Botha, eggenote van Generaal Louis Botha. Die inisiatief vir die stigting het gekom van Georgiana Solomon, ‘n Skotse vrou.
Dit was ‘n uitvloeisel uit ‘n groep vroue se besorgdheid oor die na-oorlogse nood.
In 1926 is die eerste werkster vir geestelike en maatskaplike sorg in Lichtenburg aangestel vir die mense by die delwerye.
‘n Opgeleide “maatskaplike werkster” is op 1 Augustus 1938 as die eerste organiserende sekretaresse van SAVF aangestel. In 1944 was 16 maatskaplike werkers in diens.
Die SAVF Raad vir Maatskaplike sorg is 20 Maart 1978 gestig om in Lichtenburg dienslewering te bevorder. Die fokus verskuif na gemeenskapsontwikkeling soos kultuuraksies, volksfeeste, kongresse, konferensies en vroue-optogte. SAVF vier sy eeufees in 2004 en ‘n eeufees-gedenkboek sien die lig.
Gedurende 2008 vestig elke provinsie ‘n provinsiale kantoor. Tans is die SAVF kantoor op sy eie perseel met vier werksters. Hulle doen baie goeie werk en is nou verbonde aan Lichthuis en werk saam met die inwoners en personeel.
Lichthuis het Vrydag ‘n tee aangebied vir uitgenooide gaste en die inwoners wat heerlik geëet het aan die “120 jaar” koek. Pastoor Rouvain du Preez het tyd gemaak om elkeen met ‘n handdruk te groet. Soos altyd was Frikkie Hayes, die bestuurder daar om alles te laat glad verloop. Dit was voorwaaar ‘n heerlike geselligheid. Op die foto verskyn die oudste en langste-inwonendes tans by Lichthuis.