NOORDWESTER – LICHTENBURG - Die AfriForum-buurtwagte in Stellaland en Marico het onlangs veiligheidspatrollies in verskeie dorpe gehou.
Dorpe se buurtwagte wat deelgeneem het was Bloemhof, Christiana, Delareyville, Biesiesvlei, Vryburg, Wolmaransstad Hartbeespoort, Koster, Coligny, Brits, Rustenburg, Mooinooi, Zeerust, Lichtenburg en Ventersdorp - wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), gemeenskapslede, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies dié massapatrollies in Oktober in hul onderskeie gebiede uitgevoer het om polisiëringsigbaarheid te skep.
Die hoofdoel van die patrollie was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog en sodoende misdaad hok te slaan. Geen ernstige insidente is tydens die patrollies aangemeld nie.
“Die Stellaland-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereeld patrollies hou om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies hok te slaan en veiligheid te bevorder. Dit is belangrik dat gemeenskappe en organisasies saam hande vat om misdaad te bekamp. Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
“Die impak tydens die nasionale patrollie op misdaad is duidelik sigbaar. Geen ernstige insidente is aangemeld tydens die patrollie nie, wat ’n aanduiding is dat verhoogde sigbaarheid in gemeenskappe wel die misdaadsyfer kan verlaag. Die opleiding wat AfriForum vir sy buurtwagte aanbied, is duidelik sigbaar gedurende hierdie tipe patrollies. Om hierdie rede, speel buurtwagte ’n kardinale rol in die veiligheid van gemeenskappe en wil ons graag ander dorpe aanmoedig om by AfriForum se strukture betrokke te raak,” sluit Nel af.
“Patrollies soos dié is noodsaaklik om ’n gevoel van veiligheid en samewerking in ons gemeenskappe te bevorder. Dit bring nie net sigbare wetstoepassing teweeg nie, maar kweek ook ’n bewustheid vir veiligheid wat mense motiveer om betrokke te raak. Deur die samewerking tussen buurtwagte, die SAPD en ander sekuriteitsmaatskappye versterk ons ons vermoë om misdaad te bekamp en ons gemeenskappe te beveilig,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.
AfriForum bedank alle deelnemers wat hierdie nasionale patrollies moontlik gemaak het. Sonder die hulp van die gemeenskap en die ondersteuning van alle betrokke rolspelers, sou dit nie ’n sukses gewees het nie. Die gesamentlike poging het verseker dat misdadigers weet dat gemeenskappe sterk bly staan teen enige vorm van bedreiging.
AfriForum is trots daarop om ’n groot rol te speel in die voorkoming van misdaad deur middel van ’n gemeenskapsgebaseerde benadering. Hul moedig elke inwoner aan om deel te word van hierdie inisiatief deur aan te sluit by hul plaaslike AfriForum-buurtwag. Saam kan ’n verskil gemaak word en die veiligheid van gemeenskappe verhoog. Sluit aan by jouurtwag en wees veilig.