NOORDWESTER – LICHTENBURG – Elke week is daar veediefstalle, maar boere meld dit nie meer aan nie. Honderde beeste is die afgelope maande gesteel.
Potchefstroom Intelligensie-eenheid het deurbrake begin maak waar dit aan die lig gekom het dat voertuie, mense en instellings vleis verkoop wat vemoedelik op onwettige wyse bekom is. Boere het ‘n deurslaggewende rol gespeel toe vermeende veediewe uiteindelik vasgetrek is. Die moontlikheid dat hulle ‘n deel is van ‘n groter sindikaat, is nie uitgesluit nie.
Die vermeende veediewe is veral bedrywig in Bakerville, Ottoshoop en Rooigrond.
Die beskuldigdes het hul aanvanklike hofverskyning op Vrydag, 25 Oktober gemaak vir die besit van vermoedelik gesteelde voorraad / produkte ná hul inhegtenisneming op Woensdagmiddag, 23 Oktober.
Die beskuldigdes, Mothupi en Moatlhodi, is naby die Manyane-wildreservaat buite Mahikeng in hegtenis geneem tydens ‘n misdaadintelligensie-gedrewe operasie. Dit nadat die Mahikeng en Lehurutshe Veediefstal en Bedreigde Spesies (STES)-eenheid saam met Mahikeng Blitspatrollie, Provinsiale Verkeer en plaaslike boere-inligting opgevolg het toe ‘n bakkie tussen Lichtenburg en Ottoshoop opgemerk is wat gelaai was met ‘n koei. Die genoemde motor, ‘n blou Nissan-bakkie met twee insittendes, is naby die Manyane-wildreservaat voorgekeer en ‘n koeikarkas is gevind. ‘n Tatoeëermerk het die polisie gehelp om die wettige eienaar op te spoor.
Een van die verdagtes het die polisie na ‘n plek bekend as Matikiring naby Bakerville gelei, waar ‘n koei vasgemaak aan ‘n boom gevind is.
Gevolglik is ‘n Lesotho buitelandse burger in hegtenis geneem. Daaropvolgende ondersoeke het gelei tot die inhegtenisneming van twee ander verdagtes, waaronder ‘n ander buitelander van Lesotho.
Die burgers van Lesotho staan tereg op aanklagte vir die oortreding van artikel 49 (1) (a) van die Immigrasiewet, 2002. (Wet No. 13 van 2002).
Sam Mothupi (32), Bushy Moatlhodi (34), Liphaphang Tladi (27), Karabo Kadiaka (32) en Tsekiso Mokoto (20) sal in aanhouding bly tot hul volgende verskyning in die Molopo-land-droshof in Mahikeng op Maandag, 4 November.
Boere vertrou dat die gereg hierdie booswigte en ander verdagtes dien-ooreenkomstig sal straf.