NOORDWESTER – LICHTENBURG – Die Noordwester bedank die FAK vir die mediaverklaring wat ons gebruik. Die inwoners is vandag stil, ontsteld, hartseer en moedeloos. Lichtenburg is op sy knieë, daar is net te veel onbeantwoorde vrae en gebeure die afgelope maande.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuur-vereniginge (FAK) het met groot ontstel-tenis verneem dat die Ampie Bosman Kultuurhistoriese Museum in Lichtenburg in puin is nadat ’n brand gisteraand uitgebreek het.
Volgens berigte het die brand omstreeks 20:00 uitgebreek, maar volgens ’n ooggetuie wat op die toneel was, moes die brand reeds tussen 18:00 en 19:00 ontstaan het. Volgens dié ooggetuie blyk dit ook dat die brand in die museum ontstaan het en toe na die stadsaal oorgespoel het. Martin Clarke, bestuurder Parke en Begraafplase by die Ditsobotla plaaslike munisipaliteit, het vanoggend bevestig dat die hele museum afgebrand het. “Daar is niks te redde nie. Die voorwerpe is verlore, daar was onvervangbare, unieke dokumente en voorwerpe,” het Clarke gesê.
Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, het sy ontsteltenis oor die brand uitgespreek. Die kultuurnetwerke het al in die verlede uitgereik na die museum in ’n poging om hulp te verleen, maar die museum en munisipaliteit het nie gereageer nie.
“Dit is ’n dolk in die hart van ons Afrikanererfenis. Ek het oor die laaste jaar en ’n half seker sewe keer by die museum aangedoen en voor dooiemansdeur gekom. Die laaste keer wat ek daar was, was daar nie krag of water nie en daar was reeds beduidende skade aan die voorwerpe, asook die uitstalkaste. Hierdie museum het kosbare dokumente en briewe gehuisves – briewe wat Generaal De la Rey self geskryf het, oorspronklike geskrifte van Siener van Rensburg, asook sy opvoustoeltjie. Wasmodelle van die uitstalling was destyds reeds besig om te smelt. Nog ’n groot tragedie is die verewa van Nonnie de la Rey waarmee sy vir die Engelse gevlug het tydens die Anglo-Boereoorlog. Daar was krygsgevangenekuns, verskeie Voortrekkeritems en die groot bronsbeeld van generaal De La Rey wat Anton van Wouw gemaak het. “Dit is alles daarmee heen,” sê Müller. Volgens ’n paramedikus by die Ditsobotla-munisipaliteit, Markus Pieterse, was die brandweer die hele tyd op die toneel en het die brand geblus.
“Toe ek daar opdaag, het ek saam met die brandweer gestop, hulle was daar met ’n tenk van 20 000 liter en ook nog een van 5000 liter. Dudfield Fire het ook met 10 000 liter tenk die brand probeer bestry. Daar was konstant water en die water het nie opgeraak nie totdat die brand geblus is,” het Pieterse aan die FAK bevestig. Die FAK het vanuit verskeie oorde bevestiging gekry dat die brandweer wel water gehad het. Die munisipale werkers het maande laas hul salaris ontvang.
Kolonel Willem Bekeer van Lichtenburg SAPS het bevestig dat die Ampie Bosman museum op Dinsdag, 24 Oktober 2023 ongeveer 19:30 deur ‘n vuur verswelg is. Die voorval is by die Polisie aangemeld en die skade word voorlopig op R3 000 000.00 geskat. Bekeer sê hierdie museum is vir jare een van Lichtenburg se trekpleisers vir toeriste. Daar is reeds ‘n ondersoek geloods om die oorsaak van die vuur te bepaal. Forensiese deskundiges is besig met die ondersoek. Bekeer vra enige persoon met inligting, moet met die plaaslike Polisie in verbinding tree.