
Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - As jy sosiale media gebruik vir jou besigheid, jou loopbaan of selfs net om ‘n boodskap met die wêreld te deel, is daar ’n paar goue reëls wat jou werk makliker gaan maak, en natuurlik jou resultate baie beter. “Ek is al jare in die wêreld van sosiale media, en ek sien byna elke dag hoe mense onbewustelik hul platforms verkeerd gebruik, of waardevolle geleenthede misloop.
Maar goeie nuus: jy hoef nie ‘n tegniese ghoeroe of voltydse inhoudskepper te wees om sosiale media soos ‘n pro te gebruik nie,” sê Magriet Groenewald, eienaar en stigterslid van Magriet.co, ’n aanlyn sosialemediasakeskool.
MOETS - Dinge wat jy beslis moet doen:
- Wees konsekwent.
Doen gereeld plasings en hou by ‘n roetine. Dis nie nodig om elke dag ‘n plasing te maak nie, maar mense moet weet wat om van jou te verwag. Al is dit net 2-3 keer per week, dit is voldoende, die belangrikste is net om daarby te hou.
- Skep waarde.
Mense volg jou nie net omdat jy bestaan nie, hulle wil iets van waarde vir hulself uit jou inhoud kry. Dit kan inspirasie, inligting,
raad of vermaak wees. Vra jouself: Watter waarde kry my volgelinge uit hierdie plasing?
- Gebruik goeie kwaliteit beelde en video.
Ons is visuele wesens. As iets vaag, donker of onprofessioneel lyk, blaai (“scroll”) mense verby. Jy hoef nie duur toerusting te hê nie, net goeie beligting en ’n skoon agtergrond kan al die verskil maak.
- Wees jouself.
Mense het ’n natuurlike behoefte aan konneksie met mense, nie met perfekte, gepoleerde handelsmerke nie. Jou unieke styl, jou stem, jou humor, dis wat jou spesiaal maak en jou profiel laat uitstaan.
- Reageer en bou gemeenskap.
Sosiale media is ’n gesprek, nie ’n verkoopspamflet nie. Reageer op kommentaar en boodskappe, wys waardering, en bou verhou-
dinge op met jou volgelinge.
MOENIES - Dinge wat jy eerder moet vermy:
- Moenie net oor jouself praat nie.
As elke plasing net ’n advertensie is, gaan mense gou moeg word. Wissel dit af met wenke, vrae, stories, of iets prettigs.
- Moenie hutsmerke (hashtags #) oordoen nie.
’n Handvol goedgekeurde, rele-vante hutsmerke is perfek. 30 hutsmerke onder elke plasing wys dat jy nie ’n strategie het nie, en boonop lyk dit desperaat.
- Moenie kopieer en plak nie.
Wat op iemand anders se blad gewerk het, gaan nie noodwendig vir jou werk nie. Skep oorspronklike inhoud wat jou persoonlikheid en boodskap weerspieël.
- Moenie bang wees om te wys wie jy is nie.
Perfeksie word oorskat. Jou volgelinge wil sien wie jy regtig is, insluitend jou “agter-die-skerms”-oomblikke, foute en leerprosesse.
- Moenie hoop vir resultate sonder ’n plan nie.
Sonder ’n duidelike strategie (selfs al is dit net ’n eenvoudige inhoudsplan per week), mors jy tyd en energie. Jy hoef nie met al die nuutste toebehore te begin nie, maar jy moet doelgerig wees met jou strategie en dit wat jy beplan,
al is dit hoe eenvoudig. Volg dit week na week.
Laaste wenk van Magriet:
“Onthou, sosiale media is nie ’n naelloop nie, dis ’n marathon. Dis okay as jy stadig begin. Wat belangrik is, is dat jy begin en aanhou. Wees leerbaar, toets dinge uit, kyk wat werk vir jou en hou dit vol. En as jy ooit verlore voel, onthou net, jy hoef dit nie alleen te doen nie. Daar is gemeenskappe, mentors en kursusse waar ons jou hand vat en jou help groei, een plasing op ’n slag.”