Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Die skooljaar is verby en al wat nou voorlê is skole wat rapporte of verslae aan leerlinge van graad 1 tot 11 uitgee. Hierdie verslae is soms moeilik om te interpreteer, omdat terminologie gebruik word wat nie altyd vir ouers verstaanbaar is nie. ‘n Rapport of verslag sal altyd die lys van vakke wat die leerling deur die jaar gehad het lys met hetsy ‘n vlak (1-7) of ‘n persentasie wat behaal is. Die meeste verslae sluit ook die graad gemiddeld in om aan te dui hoe die leerling teenoor die graad presteer het.

Promosie
Op die rapport word aangedui dat die leerling na die volgende graad bevorder word. Promosie dui aan dat die leerling aan al die vereistes vir die vak voldoen het en “slaag”.

Progressie
In sommige gevalle word progressie na die volgende graad aangedui. Dit beteken dat die leerling reeds een keer in die fase ‘n graad herhaal het, of dat die leerling saam met die ouderdomsgroep “geskuif” word. Wat staan jou as ouer in hierdie geval te doen? Jy as ouer behou die reg om te besluit of jou kind die graad moet herhaal of saam met die groep na die volgende jaar moet beweeg. Die redenasie van die provinsiale onderwysdepartemente is dat leerlinge nie in dieselfde omgewing met gemak kan vorder nie. Dit beteken dieselfde onderwyser, dieselfde leerinhoud in ‘n nuwe klas. 

Navorsing toon dat leerlinge wat ‘n graad herhaal emosionele skade het en dit problematies vind, veral waar leerlinge van die vorige klas steeds in die skool is. Die skool sal reeds vir jou kind ‘n ondersteuningsprogram uitgewerk hê vir die volgende jaar in areas waar die volgende onderwysers moet fokus. Dit is belangrik om vroeg in die jaar ‘n gesprek met die voog- of klasonderwyser aan te vra om seker te maak wat gedoen kan word om die leerling te ondersteun.

Die grootste fokus is gewoonlik op uitdagings met lees en wiskundige vaardighede, en met die regte ondersteuning kan agterstande uitgewis word. In grade 10 en 11 sal dit duidelik blyk of daar vakke is wat moontlik nie geskik vir jou kind se vaardighede en belangstelling is nie. Leerlinge kan vakke in graad 10 en 11 verander, eerder as om in graad 12 met ‘n uitdagende vak te stoei.

Kondonering
Dit is belangrik om in gedagte te hou dat leerlinge in graad 1-3 gewoonlik twee tale, wiskunde en twee lewensvaardighede neem. Die vakke vermeerder in graad 4 tot 6 na vyf verpligte vakke en dan in graad 7-9 word die verpligte vakke na nege gelig met die meeste vakke wat meer as een komponent het. Die aantal vakke in graad 10-12 is maar sewe (buiten addisionele vakke). Die tyd wat aan die vakke van graad 4-9 spandeer word, is gewoonlik nie genoeg om al die inhoud van die vakke te dek nie. Daar word ook na die slaagvereistes vir graad 12 verwys om die leerders in Graad 4- 9 ‘n billike geleentheid te bied.

Hou in gedagte hou dat sommige leerlinge nie in hulle moedertaal onderrig word nie, wat die inhoud van hierdie vakke baie moeiliker maak. Leerlinge het ook nie ‘n keuse tussen hierdie vakke nie en moet al die vakke neem en slaag. Die slaagvereistes vir graad 4 tot 9 is ook vir die meeste leerlinge moeilik om te behaal. Die leerlinge wat tans in graad 4 tot 9 is, is ook deur die leerverliese wat in die Covid-19 periode ontstaan het, geraak. Die Departement van Basiese Onderwys het daarom ’n spesiale punte aanpassing vir hierdie grade daargestel om te verseker dat alle leerlinge dieselfde geleentheid het om te slaag. 

Dit staan gewoonlik as kondonering bekend en word op die rapport aangedui. Leerlinge wat minder as 5% nodig het om ‘n vak te slaag, kan met punte aanpas-sing ondersteun word. Hierdie aanpassing kan in drie vakke toegepas word. Wiskunde in graad 4 tot 9 bly vir leerders ‘n groot uitdaging en daarom word daar spesifiek op die vereistes vir die slaagvereistes van Wiskunde gefokus en ‘n kondonering in Wiskunde gedoen sodat leerlinge nie ‘n graad moet herhaal omdat die Wiskunde ‘n uitdaging is nie. 

- Die inligting is ontvang van die SA Onderwysersunie.

Wat staan jou as ouer te doen? 
Een van die vereistes van die onderskeie onderwysdepartemente is dat ouers reeds voor die finale rapport in kennis gestel moet word dat leerlinge nie soos verwag word vorder nie. Ouers word ook in kennis gestel van watter planne die skool in plek gestel het om ekstra klasse en ekstra ondersteuning te bied. As die onderwyser ekstra hulp aan leerlinge aanbied sal dit agterstande vinnig aanspreek. Nie alle kinders leer teen dieselfde spoed nie en het soms ekstra tyd en ondersteuning nodig om die inhoud baas te raak.

‘n Skoolrapport is gewoonlik ‘n foto van ‘n kind op ‘n spesifieke tyd in sy lewe. ‘n Wyse vrou het eenmaal gesê kinders is soos springmielies, nie almal is op dieselfde tyd gereed nie. As die rapport arriveer is dit nodig om jou kind met deernis te hanteer, moontlike leer- en ondersteuningsgleenthede te identifiseer en met die skool saam te werk om seker te maak dat jou kind die beste geleenthede ontvang.