Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Daar is niks soos die ervaring van lewendige teater nie en daarom bring Rio Casino Groet die Grotman 2 na Klerksdorp op 27 September. Dit is deel van Lefra Produksies se landwye toer vir die komiese stuk en hulle beloof jy sal lag dat jou ribbes eintlik pyn. Waarom gaan dit? Dit is twintig jaar sedert die eerste Grotman verhoogstuk.

Grotman en Elize is steeds gelukkig getroud … of is hulle? Die kinders is tieners met hul eiesoortige uitdagings. Grotman het sy rookseine verruil vir WhatsApp-boodskappe, eposse, iPhones, Facebook, Twitter en aanlynkonserte. Die verskille tussen mans en vrouens is steeds daar, want mans is steeds van Mars en vrouens van Venus.

In Groet die Grotman 2 word die verskille tussen mans en vrouens op komiese wyse uitgebeeld deur Grotman Phillru van Achterbergh. Frans Swart het die teks geskryf en hanteer ook die regie. 

Vrouens is steeds die gaarders (veral van nuttelose inligting!) en mans steeds die jagters (van ‘n bok tot ‘n televisieprogram).

“Mans en vrouens lag vir mekaar in Groet die Grotman 2 en dis juis wat hierdie produksie so gewild en sterk maak,” sê Swart.

“Mens kan amper sê ons doen huweliksberading op ‘n komiese wyse. Die feit dat Grotman sy wêreldjie moet groter maak om by Elize se wêreld aan te pas en die feit dat Elize haar oop wêreld so bietjie nouer moet maak om by Grotman se wêreld uit te kom, sorg vir baie komiese situasies.” 

Die oorspronklike Groet die Grotman hou steeds die rekord vir die Afrikaanse teaterproduksie wat die meeste vertonings oor die langste tydperk gehad het … meer as 1 000 vertonings oor 10 jaar! Lefra het die Grotman toe vir tien jaar laat rus in sy grot... tjoepstil! 

“Maar Grotman kon nie net tjoepstil in sy grot bly nie. Hy het te veel stories om te vertel. Phillru van Achterbergh as die Grotman vertel van meesterbraaiers, slaaie, bouery, handdoeke wat nie gebruik mag word nie en natuurlik oor die slaapkamer!”

“Dames, julle gaan julle mans herken en jy kan gerus maar jou man in die ribbes pomp. Meneer, jy gaan beslis jou vrou in Groet die Grotman 2 herken … so wys maar gerus die wysvinger na haar … net nie die middelvinger nie! Saam gaan mans en vrouens weer heerlik lag en sommer gratis terapie ontvang vir die huwelik.”

Die kaartjies is by ww.itickets.co.za beskikbaar en kos R220 elk. Die stuk het ‘n ouderdomsbeperking van 16 jaar. Die vertoning sal om 19:00 begin.