Soos Alice in Wonderland het Marieta Carrick by ’n konyngat ingeval, maar wat sý skryf, is alles behalwe slaaptydstories. “Ek hou van horror, maar my gunsteling is sielkundige rillers. As jy dit kan regkry om met my kop te smokkel, dan hét jy my,” gesels sy. Dit is wat die blonde Kaapse skrywer reggekry het met haar lesers in haar nuutste boek, Bloed van ‘n vlinder. Die hoof-karakter, Suster Libby Lucas, begin by Noordeberg Hospitaal werk. Sy hoop dit sal ’n nuwe begin wees, en dat sy al haar geheime in die verlede sal kan los. Maar dan word ’n verpleegster vermoor. Skielik voel dit asof die onheil Libby agtervolg. Of is sy nou besig om haar verstand te verloor?
Met ’n agtergrond in die mediese beroep (Marieta was self ’n traumaverpleegsuster) beeld sy die hospitaalruimte in haar sielkundige rillers geloofwaardig en boeiend uit. Haar debuutroman, Waar bloed kruip, het in 2020 verskyn. Die uitgewery is egter ’n maand of twee later tydens die Covid-tydperk gelikwideer en Marieta moes ’n nuwe uitgewer vind. Sy het toe op Carolyn Meads van Queillerie afgekom.
“Skryf was net soveel makliker met Carolyn op die agtersitplek - altyd besig om my aan te moedig,” sê Marieta. Die skrywer en haasliefhebber het ook al ’n draai op die kassie gemaak: In Via se realiteitsprogam Langpad na liefde het sy en sewe ander (heelwat jonger) deelnemers die land platgery in die hoop om liefde te vind. “Dit was die beste ding wat ek vir myself kon doen,” sê sy. “’n Mens kan nie dink dat iemand wat soveel ouer is sulke diep vriendskappe met hartsmense - mense wat jou energise - sal vorm nie.”
Daar was wel ’n kinkel in die kabel...
“Twee dae voor ek moes vlieg vir die show, het ek gematch met ’n ou wie se Bumble-foto’s hom nie juis justice gedoen het nie.” Hulle het blitsig voor die verfilming op ’n afspraak gegaan.
Marieta was eerlik oor die opkomende maatsoekprogram en hoewel hy in die werklikheid “baie mooier” as sy foto’s is, het sy hom meegedeel dat sy haar nie sou weerhou indien sy wel iemand op die program ontmoet nie. Hoe dit ook al sy; Marieta is nou al byna 10 maande met dié 41-jarige entrepreneur in ’n verhouding en hulle is dolgelukkig. Hy deel haar hart met haar hasies, Thor (’n klein Vlaamse reus) en Oliver (’n rescue).
Die tienerfase van ’n haas is glo ’n riller op sigself. “Ollie en Thor moes aanvanklik vir bonding na ’n bunny whisperer gaan,” sê Marieta, “maar vandag is hulle beste maatjies.” En nou is daar nog ’n haas - die een wat sy uit ’n hoed getrek het en wat beloof om jou op die punt van jou stoel te hou: Bloed van ’n vlinder.