
Drie moorde in die Baai: NB Uitgewers
Madelein Rust verras haar lesers met ‘n spanningsroman wat jou tone sal laat krul van lekkerkry. Dit gaan oor Bianca Fabricious, ‘n hygromanskrywer en nuwe eienaar van die Strandloper-gastehuis op St Helenabaai. As nuwe intrekker het sy skaars haar voete gevind of die uitsig voor haar kamervenster verander in ’n misdaadtoneel. Een mistige oggend struikel sy oor ’n liggaam op die strand. Om alles te kroon is die slagoffer ’n blondine met wie sy onlangs haaks was oor haar kaalbas sonbaaiery voor al die hotelgaste...
Dis duidelik dat die gawe speur-adjudant Meintjies haar glo wanneer Bianca verduidelik sy het bloot die liggaam ontdek, maar kaptein De Wee is ’n perd van ’n ander kleur. Hy mag dalk soos Barbie se Ken lyk, maar op die beste van dae is hy ’n stompsinnige wetter. Bianca probeer haarself as verdagte uitskakel en die regte boosdoener aan die kaak stel, maar dit veroorsaak ’n hele reeks onvoorsiene gebeure.