Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Elize Davies en haar man het skaars drie maande uitgegaan voor hulle getroud is. “Terugskouend sou ek dalk maar eerder vier of vyf maande gewag het,” lag sy vanwaar sy agter haar rekenaarskerm in Skotland sit. Vir dié gesoute liefdesverhaalskrywer is ’n droomman “iemand wat omgee en begrip het vir ’n vrou”
“Ek is maar outyds wat dit betref,” sê sy. Verder meen Elize ’n man moet ’n sin vir humor hê en vir sy foute kan lag. Die held in haar boek, ‘n Droomman vir Carmi wat by Human & Rousseau verskyn het, het glo haar man, Leslie, se eienskappe geërf – “maar net die goeies, hoor!” skerts sy.
En net soos Carmi en Herman Hattingh, moes Elize en Leslie ook ’n paar struikelblokke oorkom. Die eerste groot een was die taal- en kultuurverskil: Leslie is ’n Engelsman wat in Zambië gebore is en Elize kom uit ’n stoere Afrikanerfamilie. “My ouers was geskok, want hulle kon skaars meer as yes, no en please sê,” lag sy. “En nou moet jy weet,” sê sy meer ernstig, “my ouma was in ’n konsentrasiekamp. So, ’n verhouding met ’n Engelsman was nogal ’n ding.”
Elize se ma het tot haar dood toe slegs Afrikaans met Leslie gepraat. “Hy moes maar vinnig leer.” Dit was ook juis danksy Leslie se Afrikaanse vriende van die rugbyklub dat hy en Elize mekaar in die eerste plek leer ken het. As jongwerkendes het albei in ’n jeugsentrum in Vanderbijlpark gewoon; sy was ’n onderwyseres en hy het by Yskor gewerk. “Ons was in ons vroeë twintigs en het maar so in ’n groep uitgegaan,” vertel sy.
Maar kort voor lank wou Leslie haar alleen uitneem, en só het dit gekom dat dié middelkind van vyf binne drie maande met haar eie droomman getroud is en sommer ook die weg vir haar sibbe gebaan het, aangesien haar broer én suster later ook met Engelssprekendes getroud is. Haar ouers was streng, konserwatief, en gods-dienstig, met goeie waardes en beginsels. “Daar was struwelinge, maar ek dink die ergste ding wat my pa ooit vir my ma gesê het was ‘gaan bars!’” lag Elize. Verskille is altyd opgelos en hulle het nooit kwaad gaan slaap nie – dit het sy by haar ma geleer. By haar pa het sy geleer om vas te byt: “Jy gee nie op nie. Jy hou by jou spertye en as daar ’n nee-dankie-briefie kom, staan jy maar weer op en jy gaan aan.”
En dit hét destyds vasbyt gekos om aan te gaan toe Elize en Leslie se tienjarige dogter in 1994 aan kanker oorlede is. “Lize se dood was dié moeilikste tyd van ons lewe,” erken Elize. “Sonder mekaar se bystand en onderskraging sou ons nie die mas opgekom het nie.” Nóg ontwrigting het gevolg toe die egpaar en hul drie opgeskote seuns 19 jaar gelede sonnige Suid-Afrika vir Engeland verruil het. “Ses maande ná ons ingetrek het, was ons tasse gepak en ons was gereed om terug te kom,” vertel Elize. Maar hulle het deurgedruk.
Aanvanklik het sy as plaasvervangeronderwyser by verskeie skole gewerk. “Dit was rof,” sê sy. Daarna het sy by ’n bank begin werk - eers in die hulpafdeling en toe aan die finansiële kant. Met haar aftrede kon Elize, wat deur die jare stories vir Sarie en Rooi Rose geskryf het en wat haar eerste boek in 2006 publiseer het, haar uiteindelik voltyds op liefdesverhale toespits. Haar seuns het hul vlerke gesprei; een woon in Korea, een naby Londen, en een in Duitsland. Sy en haar man het hul huis in Engeland verkoop en hulself aan die rustige en natuurskone Skotse kus hervestig.
Die paartjie vier steeds Valentynsdag met ’n melkskommel en ’n snytjie kaaskoek by hul gunstelingrestaurant langs die see. Elize het onlangs wel vir Leslie gevra om nie meer vir haar kaartjies te gee nie. “Ek het al sy kaartjies oor die jare gehou en ek het net nie meer plek vir nuwes nie.”
Een keer ’n week is dit fliekaand by die Davies. “Leslie kies die een week en ek kies die volgende week,” sê Elize. Sy is lief vir chickflieks, en dan kyk hy maar gedwee saam. Ja, sy glo beslis in sielsgenote, beaam Elize. “Dit gaan oor respek vir mekaar; smaak hoef nie ooreen te stem nie.”
In ’n Droomman vir Carmi ry Carmi Molenaar, ’n eerstejaarstudent op Potchefstroom, een middag diep ingedagte op haar fiets wanneer haar pad onverwags met dié van ouer regstudent Herman Hattingh kruis. Carmi se verantwoordelikhede laat egter min tyd of ruimte vir romanse. Sal die twee hardkoppige studente kan leer om mekaar te vertrou.