Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Lilie, ‘n chihuahua, wat op 31 Januarie vermis geraak het, is steeds weg. Haar mense het ‘n beloning uitgeloof om die klein hondjie terug te kry. Megan Smith se hart is gebreek. Lilie is al vir langer as tien jaar aan haar sy en het per ongeluk uit hul erf in Van Onselenstraat, Neserhof gekom. “Sy was nog nooit buite die erf nie. Sy is so klein en het ongesiens uitgekom. Sy is ligbruin van kleur, haar tong hang effens uit en sy volg ‘n spesiale dieet omdat sy al so oud is. Asseblief, ons wil haar bitter graag terug hê,” smeek Megan.
Sy vermoed iemand het vir Lilie opgetel en hou haar nou by hulle. Sy het ‘n spoorsny-hond gebruik wat Lilie se reuk tot by die Griekse kerk in Neserhof gevolg het. Dit het egter daar weggeraak.
“Sy is regtig my beste vriend. Ek het grootgeword met haar wat in my bed slaap en saam met my speel en dit breek my hart om nie te weet waar sy is nie. Asseblief, ek vra baie mooi kan julle ons help kyk vir haar en haar terugkry.”
Indien jy vir Lilie gewaar of weet waar sy is, skakel Megan by 083 867 0076.