Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Wanneer die Jakarandas se pers koppe oor Klerksdorp troon en die sonbesies skree, kondig dit nie net die somer aan nie, maar ook die tyd vir die jaarlikse boekefees in die stad.
Vanjaar kuier die skrywers by Verdant Tuinsentrum in Ianstraat met heerlike kuierplek onder die koeltebome, ‘n uithaler spyskaart met lekker kos en ‘n gesellige atmosfeer. Die fees skop op ‘n hoë noot af op Vrydagaand 3 November met Dana Snyman wat van sy reisstories met Klerksdorpers kom deel. Die gewilde joernalis en skrywer se jongste boek Die binneland In het pas verskyn en getrou aan sy aard vertel hy stories oor ons land en sy mense soos net hy kan. Kom luister na wat hy alles op die langpad gevind het. Kaartjies is R220 per person wat ‘n braaivleisete insluit. 

‘n Plaaslike sanger, Almur Marais van Stilfontein, sal musiek maak tussendeur. 

Slegs ‘n beperkte aantal kaartjies is te koop vir die eksklusiewe afskopfunksie. 

Indien jy vir Dana die aand misloop, is daar darem nog Saterdag (4 November) ‘n kans om hom te ontmoet. Hy gaan gesels met die Klerkdorpse skrywer Stefaans Coetzee oor sy nuwe boek Onbeskryflike Genade. Stefaans is die organiseerder van die boekefees en sy liefde vir lees loop hom eintlik vooruit. Hy het al meermale gesê solank hy meer mense aan die lees kan kry, is hy op sy gelukkigste. 

Dana gaan met Stefaans gesels oor wat sy toekoms inhou, aangesien hy nie meer wil praat oor sy verlede nie. Die gesprek begin om 10:30. 

Maar kom asseblief vroeër. Verdant bedien ‘n heerlike ontbyt en om 09:30 begin die dag se program met twee geliefde storievertellers, Alita Steenkamp en Madelein Rust wat met mekaar gesels oor menswees, boeke skryf en oorlewing - en wat gebeur as jy tot jou uiterste beproef word. 

Madelein se boek Van Vrees na Vrede oor hoe ongeneeslike kanker haar leer leef het, het vanjaar verskyn en Deur die Vuur is Alita se eerste jeugroman. Albei die skrywers laat nie toe dat die groot K hul onderkry nie.

Dan kan jy ook nadersit vir ‘n gesprek wat jy nog nie voorheen op ‘n boekefees gehoor het nie. Jo Prins, Netwerk 24 se boekeredakteur gesels met resensente Francois Bekker en Anschen Conradie oor die noodsaaklike euwel van boeke resenseer. Kry jy ‘n swak boek? Moet alle boeke goeie resensies kry? Hoekom vir ander mense voorskryf wat om te lees? Hierdie en ander tergende vrae sal beantwoord word in hul gesprek om 11:30.

Nog ‘n hoogtepunt van vanjaar se Klerksdorp Boekefees is die gewilde skrywer Marita van der Vyver wat haar jongste boek Laaste Kans bekendstel. Dit is ‘n opvolg op haar boek Wegkomkans wat in 1999 gepubliseer is. Sy het daardie jaar ook Klerksdorp besoek en nou, byna 25 jaar later kom sy weer hier kuier. Salomé Kotzé, Klerksdorp Rekord se redakteur, wil in haar gesprek met Marita om 12:30 hoor watter kanse sy al deur haar vingers laat glip het.

Na middagete is dit die krimiskrywers Julio Agrella en Madelein Rust se beurt om oor die gewildheid van Afrikaanse misdaadfiksie te gesels. Susan Cilliers, ‘n joernalis en skrywer van ware misdaad, gaan die gesprek lei. Madelein se nuutste krimi, Siembamba word hoog aangeskryf en as skrywer van spanningsverhale het sy die afgelope 12 jaar elke jaar ‘n boek in dié genre publiseer. Julio is ‘n nuwe stem in die wêreld van misdaadfiksie en het met sy karakter, die privaatspeurder Zeus van Wyngaardt lesers se verbeelding aangegryp.

Om die vol program mee af te sluit, is die verhale wat in die boek Diensplig deur Anelia Heese saamgevat is, in die kollig. Joernalis en Skrywer Deon Lamprecht en Johan de Waal het altwee bydraes tot die boek gemaak en gaan meer insig gee oor die jare waarin mans verplig was om weermagdiens te doen. 

Gesprekke oor die boek was baie gewild by Aardklop met die rou en soms skokkende stories uit die jare van die grensoorlog wat lesers aangryp. ‘n Student in Krygkunde, Jandré du Plessis gaan die gesprek lei. Dit begin om 15:30. 

Intussen gaan daar heerlike eet- en drinkgoed te koop wees met kosstalletjies en die restaurant by Verdant wat gaste gaan bedien. Daar sal ook ‘n boekwinkel wees om nuwe boeke te koop en ‘n paar snuffeltafels met tweedehandse boeke. Stefaans stel ‘n boekfees kortverhaalbundel bekend, nl 7 Keer Sondag en sy LeefLiefde-stigting oorhandig die Zenobia-toekenning aan ‘n persoon wat ‘n daadwerklike verskil in hul gemeenskap maak. Die ontvanger van die toekenning word eers op die dag van die boekefees bekendgemaak.

Klerksdorp sien uit daarna om gaste by die boekefees te ontvang. Toegang is gratis.