Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Latest news
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Hartbeesfontein - Daar word met groot afwagting uitgesien na die orreluitvoering die naweek op die NG Kerk Hartbeesfontein se pyporrel. Die NG Gemeente se pyporrel is vanjaar 42 jaar oud en het onlangs noodsaaklike onderhoudswerk ondergaan vir die eerste keer sedert die orrel gebou is. Die direkteur en stigter van Pyporrels Pty Ltd, Werner Hurter, het die instandhoudingswerk gedoen.

Hy het sy vakleerlingskap as orrelbouer begin onder leiding van ‘n Nederlandse meester-orrelbouer in Suid-Afrika en dit voltooi aan die wêreldbekende orrelbou-maatskappy, Flentrop Orgelbouw, in Zaandam, Nederland. Hy het al landwyd orrels in prestige lokale herbou en opgradeer en is veral bekend vir die baanbrekerstegnologie wat hy en sy span ontwikkel het, om skade aan pyporrels deur onbetroubare elektrisiteit toevoer, te verhoed.

Sy passie vir pyporrels is merkwaardig en word gedryf deur sy liefde vir die ryk, resonante klank en musiek en sy missie om gewone mense in staat te stel om ook pyporrelmusiek in al sy glorie te ervaar. 

Die gemeente is dankbaar dat die orrel weer tot sy volle potensiaal benut kan word en wil dit graag met alle musiekliefhebbers deel. Daarom het die plaaslike ATKV-tak besluit om ten bate van die gemeente ‘n orreluitvoering deur die internasionaal-bekende orrelis, Isabelle van Rensburg, ‘n gebore Klerksdorper, aan te bied. Dit vind plaas op Saterdag 5 Oktober om 11:30 vir 12:00 in die gemeente se kerkgebou.

Die kerk se pyporrel is een van baie min Barok-pyporrels in die Suidelike halfrond. Hierdie pyporrel is in 1982 gebou deur die plaaslike firma Suid-Afrikaanse Orrelbouers. Dis ‘n twee-manual orrel met hoofwerk en rugwerk, asook 25 registers, 1784 sprekende pype, drie koppels en ʼn tremulant. Kombineer dié orrel met die meesterlike Isabelle van Rensburg en jy kry ‘n luisterryke orreluitvoering van skouburggehalte, in die veiligheid en gerief van die platteland.

Isabelle is deur internasionale musiekmeesters onderrig en het ook internasionaal opgetree, meegeding en presteer. Op nasionale vlak was sy die wenner van verskeie kompetisies.

Gedurende 2008 en 2009 het sy onderskeidelik ‘n lisensiaat in uitvoerende musiek en musiek-onderrig behaal en in 2021 ‘n Doktorsgaad in Musiek (uitvoerende kuns). Sy bedryf tans haar eie orrel-, klavier- en musiek-akademie, is vise-voorsitter van SAKOV en orrelis van die NG Kerk Universiteitsoord, Pretoria. Benewens dit alles is sy ook ‘n navorser, wat baie geïnteresseerd is in Suid-Afrikaanse orrel-komposisies.

Kaartjies na die uitvoering is R150 per volwassene en R80 per kind tussen die ouderdom van 6 en 12 jaar oud. Dit sluit ‘n driegang aansit-ete na afloop van die orreluitvoering in. Vir voorafbesprekings, WhatsApp  072 545 7034, voor of op Dinsdag 1 Oktober om 11:00. Jy sal van ‘n betaalskakel voorsien word waarmee jy die betaling vir jou bespreking kan afhandel.