GEMSBOK-UPINGTON: ‘n Man wat in geestelike bediening werk, tree nooit af nie. Dit blyk nou ook die geval te wees met kapelaan H.O. Meyer, wat vir die afgelope 17 jaar adjunk-direkteur by Korrektiewe Dienste in die Upington-streek was.
Want, alhoewel hy verlede Vrydag as kapelaan by Korrektiewe Dienste afgetree het, gaan hy voort in die bediening.
Eerwaarde Meyer, soos mense hom noem, kom eintlik van Graaff-Reinet af, maar het Upington sy tuiste gemaak. Sy vrou, Helen, bedryf ‘n besigheid op Upington, so hulle gaan net hier bly, al verlang hy so na sy tuisdorp.
Hy het 17 jaar gelede by Korrektiewe Dienste begin werk. Voorheen het hy by die Premier se Kantoor gewerk, asook by Dept. Sosiale Dienste.
Hy is nog steeds by die AGS Kerk georden en was vir lank ‘n pastoor by die Rehoboth gemeente, wat hy ook gestig het. Hy is vir die afgelope 10 jaar ook voorsitter van die SBL by die Markus Mbetha Sindisa Secure Care Centre op Upington.
Hy het die volgende kursusse voltooi: Nat. Diploma: D. Divinity, B. Council, B.Th en BA. Honors - NWU.
Eerw Meyer het sy werk baie geniet. Hy het as kapelaan, dit geniet om saam met die 28 geestelike werkers van die verskillende denominasies te werk. Hy was die koördineerder van Geestelike Sorg en het gereeld Kuruman en Springbok besoek, omdat dit onder die Upington-area val.
Sy werk was vir hom ‘n groot avontuur en goeie leerskool. Hy het met soveel interessante mense gewerk. Kapelaan Harry Meyer bedank almal wat saam met hom gewerk het, in besonder die area-kommissaris Du Preez, asook alle area-koördineerders en bewaarders in die area.
Saam met hom tree David Abrahams (SMDC) ook af.