GEMSBOK-UPINGTON: Nadat dit aan die lig gekom het, dat die Departement van Onderwys in die Noord-Kaap R3,5 miljoen aan geskenke geblaas het, terwyl daar skole in vier van die 5 distrikte is wat nie deur die departement gefinansier word nie, het verskeie rolspelers versoek dat die LUR vir Onderwys gedagvaar word om voor die Portefeuljekomitee oor Onderwys, Sport, Kuns en Kultuur te verskyn.
Die LUR moet glo dadelik sy departement se versuim om noodsaaklike fondse aan skole uit te betaal, verduidelik.
Die befondsings is van kritieke belang vir hierdie skole om die 2025 akademiese jaar te kon open.
Befondsing bedoel vir die Nasionale Skoolvoedingsprogram, bykomende ondersteunings-programme vir graad 12-leerders, skoolonderhoud, skryfbehoeftes en ander onderrigmateriaal is blykbaar nie aan skole in vier van die provinsie se vyf distrikte betaal nie.
Die situasie raak so erg dat een Upington-gebaseerde skool te veel skuld gemaak het om skryfbehoeftes by plaaslike verskaffers te koop.
Nog ‘n skool in Springbok het gesukkel om genoeg papier te kry om November-eksamen vir leerders in graad 8 tot graad 11 te druk.
Skole wend hulle tot drastiese maatreëls, soos die skool in Daniëlskuil, wat befondsing wat vir volgende jaar se salarisse bedoel is, gebruik het om vanjaar se bedryfskoste te betaal.
Hierdie mislukking is die jongste in ‘n reeks twyfelagtige finansiële praktyke deur die Noord-Kaapse departement van onderwys.
Terwyl skole sukkel om basiese bedryfskoste te dek, het die departement sy diskresionêre besteding in een enkele jaar met meer as 4 000% verhoog.
Skenkings en geskenke aan huishoudings van die departement het van R745 000 in die 2023-boekjaar tot R3,5 miljoen in die 2024-boekjaar toegeneem.
Rolspelers en belanghebbendes het gevra vir ‘n deeglike verslag oor hierdie verbysterende toename, wat saamgeval het met die 2024-ver-kiesing en diskresionêre besteding in vorige jare ver oortref het.
Dit lyk of die LUR of onbewus van of ongeërg is met die negatiewe impak wat die nie-betaling van fondse op onderwys in die provinsie het - al het sommige rolspelers glo hierdie kommer geopper tydens die ter tafellegging van die departement se Jaarverslag 2023/ 24.
Beteken dit dan dat die LUR hierdie bekommernisse geïgnoreer het?
In sy begroting het die LUR ons meegedeel dat begrotingsbesnoeiings dit moeilik maak om departementele aktiwiteite te finansier.
Maar aangesien die departement dit kan bekostig om R3,5 miljoen aan diskresionêre betalings te bestee, kan daar geen rede wees dat skole sonder skryfbehoeftes gelaat word en gedwing word om salarisse te leen om verskaffers te betaal nie.