GEMSBOK-KATHU: In twee onderskeidelike voorvalle het die polisie op Kathu die handel in dwelms en vermoedelik gesteelde koper behoorlik gekniehalter.
‘n 29-jarige Nigeriese burger is Dinsdag vir dwelmhandel in hegtenis geneem, nadat die polisie op ‘n huis in Kathu toegeslaan het en heelwat tik en mandrax ontdek het.
Die Kathu sapd se misdaadvoorkomingseenheid het - met die bystand van die Kuruman K9 en misdaadintelligensie-eenhede - Dinsdag omstreeks 12:00 ‘n vermeende dwelmhandelaar in hegtenis geneem.
Noord-Kaapse polisiewoordvoerder, luitenant-kolonel Sergio Kock, sê die polisie het inligting opgevolg en op ‘n huis in Kathu toegeslaan waar hulle dwelms, insluitend tik en mandrax, met ‘n geraamde straatwaarde van R13 000 gevind het.
Die polisie het ook ‘n Nigeriese burger op die toneel in hegtenis geneem.
“Die 29-jarige verdagte sal na verwagting binnekort in die Kathu-landdroshof verskyn op aanklag van handel in dwelms,” het Kock gesê.
Intussen het Deben SAPD en gemeenskapspatrolleerders ‘n 23-jarige man gearresteer vir die besit van vermoedelik gesteelde koperpype en kopertoebehore ter waarde van R28 000.
Hy is gearresteer terwyl hy probeer het om die beweerde gesteelde eiendom by ‘n plaaslike skrootwerf te verkoop.
Die verdagte is gearresteer, nadat berig is dat een van die koshuis se koperpype gesteel is.
Die verdagte sal binnekort in die Kathu-landdroshof verskyn op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde goedere.
Die polisie rig ‘n streng waarskuwing aan die publiek om hulle daarvan te weerhou om gesteelde goedere te koop.
Dit is ‘n oortreding as gevang word in besit van gesteelde goedere.