GEMSBOK-UPINGTON: Die Dawid Kruiper Munisipaliteit is van plan om Schröderstraat op Upington se naam na QA Gubulastraat te verander en dit lyk asof hulle die proses so vinnig moontlik aan die gang wil sit.
Gerugte oor die beplande naamsverandering het lank voor ‘n amptelike raadsvergadering reeds begin gons en het hewige reaksie vanaf die pu-bliek uitgelok.
Op navraag oor die gerugte het mnr Patrick Williams, kommuniksiehoof vir DKM, die gerugte bevestig.
Hy het aan die Gemsbok gesê die DKM munisipale advieskomitee het besluit dat die aansoek vir die hernoeming van Schröderstraat na Alfred Qayiso Gubulastraat aanvaar word en dat ‘n openbare deelnameproses begin word.
Die openbare deelnameproses sal vir die volgende 21 dae vanaf 11 Julie 2025 tot 1 Augustus 2025 duur.
Die openbare deelnameproses sal insluit:
Wykskomiteevergaderings in die betrokke wyke, kiesafdelingvergaderings binne die betrokke wyke, ‘n openbare verhoor vir die hele Dawid Kruiper Munisipale gebied, kennisgewings in die plaaslike media, kennisgewing op die DKM sosiale mediaplatforms en kennisgewings op die plaaslike gemeenskapsradio.
Daar is glo reeds in die raadsvegadering kapsie gemaak teen die besluit, maar ten spyte hiervan is beslis dat daar met die proses voortgegaan moet word.
“Al wat hierdie naamsverandering nou kan keer is wanneer die publiek die wyksvergade rings gaan bywoon en hulle geskrewe teenstand voor die sperdatum by DKM se kantore gaan inhandig,” het ‘n ingeligte amptenaar aan die Gemsbok gesê.
Volgens ‘n dokumant wat die beleid van naamsveranderinge uiteensit, lyk dit of DKM slegs wyke 7, 8, en 9 as gaffekteerde wyke vir die besluit beskou.
Dit wil sê ander Upingtonners en inwoners van die DKM regsebied, se opinie is nie vir DKM belangrik nie.
Sover as wat die Gemsbok kon vasstel word daar wyksvergaderings beplan vir wyk 7 (14/07), wyk 8 (15/07) en wyk 9 (16/07).
Daarna vanaf 21 tot 23 Julie vind wykskiesafdelingvergaderings vir beraadslaag deur die gemeenskap en belangegroepe plaas. Hiermee saam maak DKM die nota dat “behoorlike vergaderings met gemeenskappe vir konsultasies, met bywoningsregisters en notules van vergaderings, gereël moet word.
Volgens ‘n publieke opininie opname wat verlede week deur Gemsbok op sosiale media gedryf is, voel ten minste 70% van die publiek dat hierdie naamsverandering onnodig is en dat fondse eerder vir die opgradering van infrastruktuur en padinstandhouding gebruik moet word.
DKM swyg ook oor wat die begroting vir die proses is, maar het bevestig dat hyself vir die kostes gaan betaal.
Schröderstraat loop regdeur die sakesentrum en elke besigheid in die straat gaan nou hulle adresse moet laat verander. Hiervoor gaan DKM nie betaal nie.
Dan ook is daar padkaarte wat herdruk moet word ens.
Williams het ook gesê die DKM gemeenskap word versoek om hul insette en kommentaar rakende die aansoek vir die hernoeming aan die munisipale bestuurder, dr. Elias Ntoba, te lewer.
Volledige besonderhede rakende die aansoek vir die hernoeming van Schröderstraat is verkrygbaar van die volgende amptenare, me. Carol Newman, direkteur korporatiewe dienste by (054) 338 7003/4, mnr. Klasie Makatong by (054) 338 7013/4, me. Nicolette Mess by (054) 338 7023, gedurende normale kantoorure (07:30 - 12:30 en 13:30 - 16:30 Maandae tot Vrydae).
Kommentaar/insettte, indien enige, kan skriftelik ingedien word om die munisipale bestuurder te bereik voor of op Vrydag, 1 Augustus 2025 teen 16:30.