GEMSBOK-UPINGTON: Die Vaal Oranje-opvanggebiedbestuursagentskap, in samewerking met die departement van water en sanitasie in die Noord-Kaap, bied ‘n tweedaagse rouwatertariefkonsultasie met watergebruikers in die provinsie aan. Die eerste konsultasie het Maandag in Upington en Woensdag in Kimberley plaasgevind.
Die hoof van die departement van water en sanitasie in die Noord-Kaap, Iketletso Lekalake, het gesê dat dit van kritieke belang is om met watergebruikers te skakel in die bepaling van rouwatertariewe om hul insette en kommentaar te werf.
“Dit sal die eerste openbare betrokkenheid van VOCMA met sy watergebruikers wees sedert sy totstandkoming in 2023 en vanaf 1 April in werking tree. Die konsultasie sal VOCMA geleentheid bied om die beheerraad en die tussentydse uitvoe-rende hoof bekend te stel, asook die uiteensetting van VOCMA se visie en beplande programme vir die huidige finansiële jaar,” het Lekalake gesê.
Sy het bygevoeg dat die konsultasies teen 28 Augustus aan die minister oorhandig sal word en teen 30 Oktober vir implementering afgehandel sal wees.
Wisane Mavasa, woordvoerder van die departement van water en sanitasie, het gesê dat die departement, deur die Infrastruktuurbestuur-tak, die verantwoordelikheid het om grootmaat-staatswaterskemas op ‘n volhoubare wyse te bedryf en in stand te hou.
“Dit is om effektiewe en doeltreffende voorsiening van grootmaat rou water vir ekonomiese groei, maatskaplike ontwikkeling en armoede-uitwissing te verseker.”
Mavasa het bygevoeg dat om water van ‘n aanvaarbare gehalte te voorsien, infrastruktuur in stand te hou en waterbehandeling, grootmaatwaterverspreiding en retikulasie aan menslike nedersettings te bedryf, die departement volhoubare befondsing benodig wat deur die watertarief van watergebruikers ingesamel is.
“Die prysbepaling van water is gebaseer op gebruikersbetaling, besoedelaarsbetaling, ekologiese volhoubaarheid, gedifferensieerde heffings, aanspreeklikheid en bestuur,” het hy gesê.