GEMSBOK-KLEINZEE: Vyftien manlike verdagtes, tussen 22 en 50 jaar oud, is regoor die Noord-Kaap gearresteer vir oortredings van die Immigrasiewet, onwettige mynbouaktiwiteite en die besit van vermoedelike ongepoleerde diamante.
Die arrestasies was die gevolg van ‘n multidissiplinêre, intelligensiegedrewe operasie wat uitgevoer is deur lede wat ontplooi is onder Operasie Vala Umgodi in die Namakwa-distrik.
Van Dinsdag 17 Junie 2025 tot Vrydag 20 Junie 2025 het spanne inligting ontvang rakende verdagte nagtelike mynboubedrywighede by ‘n diamantterrein in Koingnaas.
Die proaktiewe en gevegspanne het vinnig op die intelligensie gereageer en die geïdentifiseerde plek takties genader en tien verdagtes wat aktief betrokke was by onwettige mynbou suksesvol aangekeer.
Die individue is ook in besit van vermoedelike ongepoleerde diamante gevind.
Op Vrydag 20 Junie 2025 is nog twee verdagtes in Longlands in hegtenis geneem na aanleiding van intelligensieverslae van onwettige myn-bouaktiwiteite in die gebied.
Die polisie het vermoedelike diamanthoudende gruis, ongepoleerde diamante en verskeie toerusting wat vermoedelik in die uitvoering van onwettige mynboubedrywighede gebruik is, gekonfiskeer.
Alle gearresteerde individue sal na verwagting op Maandag 23 Junie 2025 in die onderskeie landdros-howe verskyn.
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Noord-Kaap bly vasberade in sy pogings om onwettige mynbou en ander vorme van misdadigheid te bestry.
Lede van die publiek word versoek om enige verdagte aktiwiteite anoniem aan te meld via die MySAPS-toepassing of die Crime Stop-nommer by 08600 10111.