GEMSBOK_UPINGTON: Die 2025 tweekamp-seisoen het op ‘n hoë noot afgeskop met die eerste liga wat op Woensdag, 15 Oktober by Hoërskool Duineveld plaasgevind het.
Hierdie byeenkoms het nie net die amptelike liga 1 ingesluit nie, maar ook ‘n opwindende pret-liga, waar skole en spanne saam deelgeneem het om blootstelling aan die sport te
bevorder – tot groot genot van atlete en toe-skouers.
Die kompetisie was straf, maar die gees was uitstekend.
Upington Tweekamp is besonder trots op die span van Oranje Noord, onder leiding van  Pierre van Rooyen en juffrou Nadia de Beer, wat as algehele wenners van die span-kompetisie uit die stryd getree het. 
In die tweede plek was  Malan le Roux en  Charles Radford van Duineveld, met die derde plek wat gegaan het aan ‘n unieke kombinasiespan van Hoërskool Upington en Hoërskool Duineveld, bestaande uit Sonja Niemand en Hanneri Boshoff.
Die atmosfeer was vrolik en die dag is gekenmerk deur uitstekende sportmangees. Leerders het hul onderwysers met oorgawe aangemoedig, wat bygedra het tot die prettige en gesamentlike gees van die dag.
 In die individuele pret-kompetisie het Petri Hanekom (mans) en Letitia van der Colff (vroue) onderskeidelik as wenners uitgestyg.
Wat die topatlete van die dag betref – dié wat in beide swem en hardloop uitgeblink het – is die volgende uitslae aangeteken:
•    1ste plek: Adalein Maritz
•    2de plek: Llewellyn Orffer
•    3de plek: Noah Visser
•    
’n Hoogtepunt van die dag was beslis die deelname van tannie Bossie Breedt, wat op die ouderdom van 73 steeds haar staal wys en die gees van volgehoue deelname beliggaam. Haar teenwoordigheid dien as inspirasie vir jonk en oud.
Met so ‘n opwindende afskop is ons opgewonde oor wat die res van die seisoen inhou. Die volgende liga vind plaas op Woensdag, 22 Oktober, en ons sien uit om weer saam met ons talentvolle atlete die sport te vier.
																					








