GEMSBOK-UPINGTON: Upington City Sokkerklub, een van die vinnigste groeiende sporthandelsmerke in die Noord-Kaap, het ‘n dinamiese vennootskap met CRC Cares aangekondig om sosiale ontwikkeling in die streek te bevorder.
Hierdie samewerking fokus op gemeenskapsbetrokkenheid deur sport en jeugontwikkeling.
Die klub, wat in 2021 gestig is en tans meeding in die Motsepe Foundation Kampioenskap – die tweede hoogste sokkerliga in Suid-Afrika – het reeds merkwaardige vordering gemaak. Hulle het hul plek in die Nasionale Eerste Divisie verdien en het in hul eerste seisoen 6de geëindig. Hulle het ‘n sterk digitale teenwoordigheid en groeiende aanhang op platforms soos Facebook, TikTok en Instagram.
Die vennootskap met CRC Cares sluit gemeenskapsuitreikprogramme en sokkerfeeste in, wat ontwerp is om kinders aan sport bloot te stel en positiewe sosiale waardes aan te leer. Hierdie sokkerfeeste, wat deur SAFA-goedgekeurde afrigters gehou sal word, fokus op pret, veilige leer en vaardigheidsontwikkeling.
Volgens die klub sal hierdie projekte plaasvind gedurende internasionale pouses in die seisoen – met voorgestelde datums in Junie, September en November 2025. Upington City FC is reeds toegewyd om personeel, spelers, toerusting en logistieke ondersteuning beskikbaar te stel.
Hierdie inisiatief is nie net ‘n belegging in sokker nie, maar ‘n belegging in die toekoms van Upington se jeug en gemeenskap. Dit bring hoop, samewerking en ‘n positiewe impak wat verder strek as die sokkerveld.
Vir meer inligting besoek: www.upingtoncityfc.co.za