Man verbrand toe geyser ontplof
Klerksdorp Rekord, Klerksdorp - ‘n Fratsongeluk kan in ‘n oogwink plaasvind. Charmain en Willie Hurn het dit agtergekom toe hul geyser ontplof en die kokende warm water oor Willie gespat het.
Charmain was op Maandag 4 Maart in hul sitkamer toe Willie (53) in hul huis se die dak klim om te kyk hoekom water deur die dak drup. Dit was nie lank nie toe hoor sy ‘n harde slag en Willie wat gil van pyn.
“Hy het om hulp geroep en ek kon die pyn en skok in sy stem hoor. Die geyser het gebars en al daai kokende water het oor hom gespat. Hy het gebrand tot by sy lieste en sy een hand het ook gebrand soos hy probeer keer het. Dit is sekerlik derdegraadse brandwonde. Toe moes ons hom nog uit die dak kry en die leer breek toe ook nog. Die duiwel was listig by my,” vertel sy ‘n dag na die voorval aan Klerksdorp Rekord.