Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Potchefstroom - ’n Afrikaanse kunstefees sonder boeke en skrywers is soos ’n braaibroodjie sonder botter: steeds eetbaar, maar dis net nie heeltemal so lekker nie. Die goeie nuus is dat die ATKV-Boeke-oase weer vanjaar by Aardklop is. Hier kan leesgieriges en belangstellendes elke dag kom luister na gesprekke met skrywers en kundiges - en dis alles gratis!
Daar is altesame 24 boekgesprekke versprei oor die vyf dae van die fees, en alles van krimi’s tot romanse, van fiksie tot waarheid, van hartseer tot vreugde en meer word bespreek. Vir jonger lesers is daar ook ’n gesprek oor jongmensliteratuur (young adult literature) in Afrikaans. 

Enkele hoogtepunte onder die gesprekke:
- Thys Human, professor aan die NWU in Afrikaans en Nederlandse literatuur, gesels met Albert Blake oor Jopie Fourie: ’n Besinning, oor die etlike ideologiese tone waarop hy in dié boek trap. Was die Boereheld Jopie Fourie wie ons glo hy was? Het sy lewe, en sy teregstelling, hom tot ’n held verklaar wat dalk nooit was nie?

- Beeld 50: Om ’n groot storie hard te slaan, saamgestel deur die joernalis Erika de Beer, is uitgegee om die 50ste bestaansjaar van dié Afrikaanse dagblad se gedenk, en Beeld se huidige redakteur, Barnard 
Beukman, sal met Erika gesels.

- Vind inspirasie in ’n gesprek getiteld Nogtans en ten spyte van, waartydens Ivor Swartz (Nogtans geloof) en Johnny Davids (Boytjie) gesels oor die verskillende kronkelpaaie wat elk van hulle moes stap om deur die donker te kom. Kom luister hoe daar ondanks terugslae, pakslae en ander krisisse nogtans vreugde in die lewe is.

- Nadine Petrick tree in gesprek met die oudjoernalis en skrywer Ebbe Dommisse oor sy biografie Anton Rupert: Die lewe van ’n sakelegende. Dié welgestelde ikoon van die sakewêreld was ook ’n entrepreneur en weldoener. Sy lewe gryp steeds die verbeelding aan en daarom het Dommisse die boek weer bygewerk. Hoe het ’n seun uit die Karoo wat in die Depressie grootgeword het en nie ryk geërf het nie, dit reggekry om binne dekades ’n familiedinastie op te bou wat die Ruperts een van die rykste families in Afrika gemaak het?

- Die koms van kunsmatige intelligensie (KI) het die wêreld se verbeelding aangegryp. In ’n gesprek getiteld Mense bestaan en masjiene bestaan - of nie, gesels die digters Danie Marais (Ek en jy bestaan nie) en Martina Klopper (Kuborg) oor die bestaan van die mens en masjien in hulle nuwe digbundels. Die ongemak van ras en klas, menseverhoudings en herinneringe, soms in “onmenslike” terme, word oopgevlek en bespreek.

- Op die misdaadfiksie-front is daar die gesprek Die perfekte misdaad tussen Christelle van Rooyen-Wessels (Wegkruiper) en Martin Steyn (Donker water), albei krimi-skrywers van formaat. Die krimiverslaafde en -kenner Stefaans Coetzee vra hulle uit oor moord en doodslag, en of die perfekte misdaad gepleeg kan word.

- In Julie het Suid-Afrikaners weer Mandeladag gevier. Daarom is ’n gesprek met Zelda la Grange oor haar memoires, What Madiba Taught Me, uiters gepas. Dié voormalige assistent en vertroueling van Nelson Mandela gesels met Nadine Petrick oor die lesse wat sy by haar baas van byna 20 jaar geleer het.

- Wat gewilde fiksie betref, gee die radio-omroeper en sanger Riaan Grobler in sy heel eerste roman ’n geestelike inslag aan ’n liefdesverhaal. In Geheime op Philadelphia vertel hy op ’n hartroerende manier ’n storie oor hoe moeilike omstandighede met liefde, aanpassing en vergifnis oorbrug kan word. Stefaans Coetzee gesels met hom.

- Daar kan nog boekdele geskryf word oor die ATKV-Boeke-oase, maar kom ervaar dit eerder self. Exclusive Books sal ook ’n opwipwinkel by die oase bedryf. Kom luister dus na hartelus - gratis - en bly dan ’n bietjie langer om deur die boeke te snuffel en moontlik ook een (of 12) huis toe te vat. 

- Klerksdorp Rekord se redakteur, Salomé Kotzé sal op die eerste dag van Aardklop (24 September) in gesprek wees met die bekende skrywer Riette Rust. Haar boek, Die Geskenk is nie net ‘n meesleurende, heerlik leesbare ware verhaal nie, maar sal ook van groot waarde wees vir elkeen wat deur selfdood geraak is of rou moes verwerk. ‘n Dapper, eerlike boek wat jou uitkyk op lewe sal verander. Op 28 September gesels Salomé ook met die akteur Ian Roberts oor sy biografie wat in die maand bekendge-stel word.

- Tyd en plek: Daagliks vanaf 09:00 in die ATKV-Boeke-oase by The Roots. Toegang is gratis. Vind die volledige program op aardklop.co.za.