Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Deur Christelle Wessels

‘n Jong, hoogswanger vrou verdwyn uit haar gastehuiskamer, en kort daarna word ‘n bejaarde dokter en sy vrou in hul huis aangeval en hy word deur gemaskerde mense die nag ingesleep. Wat gaan in die Overberg aan? Dít is wat selfaangestelde lekespeurder Ludo Labuschagne in Francois Bloemhof se nuutste misdaadroman, ‘Oor jou dooie liggaam’, wil uitvind.

Dit is Ludo se vierde avontuur en die skrywer is self verras oor die lesers se goeie ontvangs van die speurder en sy manewales.

“Toe ek die reeks begin met ‘Die duiwel maak my hart so seer’ het ek ‘n goeie idee gehad van waarheen ek met Ludo op pad is. Ek was effens bang dat jonger lesers dalk nie gaan aanklank vind by die karakters nie, omdat die verhale vroeg in die 1980’s afspeel. Vir lesers jonger as 45 kon dit dalk moeilik wees om hulself ‘n wêreld sonder moderne tegnologie voor te stel. Maar dit lyk asof die waagstuk gewerk het - die Ludo-reeks is baie goed ontvang.” 

Hy verklap dat ‘Oor jou dooie liggaam’ baie moontlik die laaste Ludo-boek mag wees, maar dis nie ‘n uitgemaakte saak nie.

 “Ek hou van Ludo as ‘n karakter, maar ek wil hom nie tap totdat daar niks interessants aan hom oorbly nie. So, vir nou verlaat hy eers die verhoog terwyl die gehoor nog hande klap. Maar hy mag dalk oor ‘n paar jaar weer sy opwagting maak, wie weet?” laat hy skertsend die aap uit die mou - soort van. 

Alhoewel daar drie voorafgaande boeke in die reeks is - ‘Die duiwel maak my hart so seer’, ‘Kry vir jou’ en ‘Blou Moord’ - staan ‘Oor jou dooie liggaam’ ook sterk op sy eie bene. Dis misdaadfiksie, maar wat met soveel finesse geskryf is, dat dit jou met sjarme oorrompel. Boonop is die reis terug in tyd verkwiklik, veral die terugflitse na 1981 se Springbokradio treffersparade - wees maar voorbereid op ‘n paar oorwurms wat in jou kop gaan bly draal lánk nadat jy die boek neergesit het!

Francois, wat al vir meer as 25 jaar verhale vir volwassenes, tieners en kinders skryf, is reeds besig met ‘n volgende manuskrip, maar daaroor wil hy nog nie veel uitwei nie.

‘Oor jou dooie liggaam’ is nou beskikbaar en word deur Lapa Uitgewers/Penguin Random House SA uitgegee. Besoek www.penguinrandomhouse.co.za vir meer inligting oor die boek en die skrywer.