Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Wanneer laas het jy stilgestaan by daardie blikboks vol handge-skrewe briewe, Oupa se pyptabak geruik, of deur Ouma se resepteboek vol voue en meelvingerafdrukke geblaai? ’n Oomblik geneem en besef: hier-die is my geskiedenis, my erfenis - iets wat verdien om vir ’n volgende geslag bewaar te word?
In ’n wêreld waar onthou so maklik vir vergetelheid plek maak, het die Erfenisstigting (ES) onlangs ’n eenvoudige maar diepgaande uitdaging aan elke Afrikaanse huis gestel: Begin ’n museum in jou eie huis, ’n lewendige ruimte van stories, foto’s, briewe en stemme.
“Dié unieke ES-kursus leer ’n mens nie net om na verskillende oudhede om te sien nie, maar ook om jou eie huismuseum in te rig, jou versamelings te bewaar en dit strategies te bemark. Die aanlyn kursus is nie net vir akademici nie. Dit is vir enigiemand wat sê: Ek het ’n storie om te vertel en dit is tyd dat my kinders en hulle kinders dit hoor,” sê Lizette Jansen, ES-bestuurder.
Die kursus gee nuttige en praktiese leiding - van hoe jy items katalogiseer tot die skep van jou eie uitstalhoekie in jou huis. “Jy hoef nie ’n geskiedeniskenner te wees nie; jy ís ’n storie wat wag om vertel te word,” voeg Jansen by.
“Elke gesin se herinneringe is betekenisvol. Jou erfstukke is nie net ou goed nie - dit is jou kulturele identiteit en nalatenskap,” sê Monique Lubbe, ES-kurator.
Of jy op ’n plaas in die Vrystaat of in ’n woonstel in Pretoria woon - jy het ’n verhaal wat nét jy kan bewaar. Besoek die Erfenisstigting se webtuiste of sosiale media om vir dié leersame kursus in te skryf. Jou kinders verdien om daardie stories te hoor, want erfenis hoort nie in ’n laai of kas nie; dit moet gelééf word. Elke dag.
Kontak gerus vir Lizette Jansen vir meer inligting oor die kursus by