Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Annita Visagé deel ’n interessante “goeie nuus’’ storie oor haar stokperdjie. Genealogie. Sy woon in La-Hoff en is ’n getroue koerantleser. Soos die jare gevorder het, was daar baie stokperdjies, maar vele het nie eers die ponie-stadium oorleef nie. Gelukkig het die laaste stokperdjie se vulletjie ʼn mooi en groot perd geword en is nou 10 jaar oud.

Die stokperdjie spoor mense se afkoms op en sit dit in kronologiese volgorde bymekaar. Die perdjie het ʼn wetenskaplike naam: Genealogie - Ondersoek na afstamming van mense; verslag van ʼn persoon se afkoms; opsomming van ʼn persoon se voorouers in natuurlike volgorde, soos ʼn stamboom en ‘n geslagregister.

Hierdie stokperdjie het ʼn bek wat jou byt en nooit los nie, en loop jy iemand raak wat een van jou navorsingsvanne het, soek jy dadelik of dit nie dalk ʼn kontak in jou soektog kan wees nie.

Vir ons genealoë is begraafplase, kerkregisters, sensusvorms en argiewe die plek om ure en dae mee te kan verwyl. Baie families is ongeneë om jou te help met die soekery omdat daar geraamtes iewers in ‘n kas is of swartskape waaroor nooit bepraat word nie. Nogtans is die hulpvaardige teendeel gelukkig ook waar!

Wonderlike familiestories word opgediep en word ʼn skat in die familieregisters of stamboom.

Ek deel graag so storie wat ek toe ek klein was, nie verstaan het nie. Die tante Antoinetta Riekert van my ma, Jopie Riekert, was met ʼn kennis van my oupa, Hendrik Riekert getroud. My oupa was een van 19 Riekert-kinders. 

So deur grootword, het ek haar en haar kinders en kleinkinders geken. Op haar 80ste verjaardag hoor ek toe by ʼn kleinneef (kleinkind van haar) dat sy nie regtig ʼn suster was van die Riekertgesin nie. Sy was ʼn weggooikind wat oumagrootjie Riekert grootgemaak het. Beide my ouers se reaksie was: “Ag ja, ʼn tragiese storie maar dis verby”!

Met my Riekert-navorsing loop ek ʼn boek van Etrese Buter-Pretorius raak waarin haar twee oupas en twee oumas se familiegeskiedenis gepubliseer is. Die titel: Was ek ‘n voël, dan vlieg ek weg. Die geskiedenis van vier families: Pretorius - Kruger - Riekert - Holtzhausen.

En so op bladsy 276 is tante Antoinetta se hele tragiese/hartseerstorie geskryf.

Op 19 Februarie 1896 was daar ʼn dinamietontploffing op Braamfonteinstasie (die dinamiet was vir die goudmyne bedoel). Baie mense is vermink en omtrent 150 mense dood.

Oupa Hendrik en sy broer Geppart was transportryers vir ‘n ekstra inkomste. Hulle een groot inkomste was die aanry van wilgehout wat aan Modderfontein se plofstoffabriek gelewer is vir die vervaardiging van buskruit. Hulle betaling was onder andere 1000 Martini-patrone en goud. Dit was ʼn groot geheim.

So op 10 Maart 1896 was Oupa Hendrik op ʼn terugtog van Pietersburg waar hy ʼn vrag afgelaai het. Met sy terugtog span hy teen skemer by die rivier uit (Kameel- of Pienaarsrivier) naby Pretoria. 

Met die houtsoekery sien hy ʼn man in die skemer naby sy uitspanplek. Hy sluip nader om hom beter te sien en tot sy skok sien hy hoe die man ʼn baba op die grond neersit en sy jagmes uithaal. Oupa Hendrik is toe so naby dat hy die man aan die arm gryp en vra: “En nou, wat wil jy nou doen?” Die man skrik en laat val die mes en sak op sy knieë. Hendrik tel die babatjie op en vou haar toe in sy jas en stotterend begin die man sy storie vertel.

Met die dinamietontploffing was hy een van die wat probeer help het na die groot treurspel. So onder die smeulende hoop stukke puin hoor hy ʼn baba huil, draai om en kry die babadogtertjie daar. Hy besluit hy vat die baba saam huis toe, want sy vrou het pas ook ʼn baba gehad. Maar by die huis was dit nie goed nie. Hulle baba was sieklik en sy vrou kon nie die tweede babatjie, wat nou amper drie weke by hulle is, versorg nie. 

Die baba was verwaarloos, altyd honger en siek, dis toe dat hy besluit dat dood vir haar ʼn verlossing sou wees.

Die volgende oggend vroeg het Oupa Hendrik met die baba in sy arms op die wa, ongemaklik en bekommerd om die kind stil te hou, tot op die plaas gery. Hulle het op ʼn plaas in Rustenburg-omgewing gebly. Hy weet net sy ma en susters sal weet wat om te doen. Die wadrywer was net kopskuddend vir die snaakse ding wat nou gebeur!

Op die plaas gekom, sit Hendrik die baba in die arms van sy ma, Dorothea Antonetta Riekert. Die baba het kleertjies aan en ʼn geborduurde borslap met die naam Joubert daarop. Die twee broers, Hendrik en Geppart, het lank gesoek en moeite gedoen om enige Joubert op te spoor, selfs onder oorledenes in die dinamietontploffing, sonder enige sukses.

Die baba is versorg en gedoop as Antoinetta Johanna Joubert Riekert. Na haar huwelik met Fre-
derick Jacobus van Zyl het hulle as die Riekerts bekend gestaan.

Hulle het 3 seuns en 2 dogters gehad (en met my navorsing) was daar 14 kleinkinders. Sy is in 1985 op 89-jarige ouderdom oorlede.

Beide sy en haar man is op Louis Trichard begrawe waar ook twee van haar agterkleindogters begrawe is.

In die Huisgenoot van 23 Junie 1950 verskyn ‘n artikel deur CR de W van Wyk: “Baba uit die puin gered deur twee bestierings”.

Dis toe Tannie Nettie se storie.

Sou jy in die stokperdjie van Genealogie belangstel, kontak ons vereniging in Potch deur Elmarie du Preez 083 527 1823. Vergaderings word elke tweede Saterdag van ‘n maand gehou.