Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times
Skorpio 
Uitgegee deur Human & Rousseau
Lesersindruk deur Salomé Kotzé
 

Deon Meyer se naam loop hom vooruit. Hy is een van daardie skrywers wat maar net kan skryf, - en ons sal dit lees. Sy naam is nou al so herkenbaar op ‘n boekomslag soos die handelsname van Chappies, Simba en Rama (of eerder AK47, Klipdrift en Coke). As jy sien daar is ‘n nuwe Deon Meyer uit, vat jy net en betaal… jy sal later by die huis na die titel kyk.

 

 

 

 

In elk geval, die nuutste Deon Meyer (Skorpio vir die wat wil weet) is net betyds hier vir die vakansietyd - en jy kan hom maar koop ja, dit is so net oor die 400 bladsye se leesgenot.

Die herkenbare karakters van Bennie Griessel en Vaughn Cupido hou weer die leisels vas. Vir nuwe lesers: hul is speurders wat die rang van kaptein beklee. Griessel meer ernstig en Cupido die clown, elkeen met sy eie duiwels wat hom jaag. Saam is hulle ‘n gedugte span, al ondersoek hulle in Skorpio elk ‘n eie saak.

Bennie Griessel is besig met ‘n ondersoek aan 'n saak wat na selfdood lyk. Vaughn Cupido dink hy mors sy tyd met ‘n ondersoek na brandstigting. Dan word die selfdood moord en daar is nog ‘n brand, en ‘n lyk. Die twee polisiemanne vat skaars grond soos hulle leidrade opvolg.

Die spanning in die boek bou treffend op en terwyl jy as leunstoelspeurder bladsy vir bladsy saam ondersoekwerk doen, moet jy ook kopkrap want die leidrade lei na niks.

Met Skorpio oortref Deon hom weereens met interessante beskrywings en goeie navorsing wat jou as leser nie ‘n oomblik verveel nie. “’n Poliesman se huis, dink hy. ‘n Alleenloper-poliesman op ‘n staatsalaris. Tien jaar oue meubels van Lewis Stores of House & Home: ‘n Tweesitplekbank, twee gemakstoele en klein koffietafels met matjies op.’’ (p46)

Hy beskryf ‘n toneel so goed, van die kleredrag van die karakters, die vertrek waar hulle is tot die Afri/Engels van die Kaapse Vlakte dat jy jou verbeel jy hoor en sien die mense met mekaar praat. Jy moet jouself net keer of jy praat saam. “Want ék weet en jy weet hulle is ‘n enterprise, an octopus, an international dark web of scammers and fraudsters wat uit die tjoekie uit ‘n hit kan order, should they feel the need.’’ (p141).

Ek het gesukkel om die boek neer te sit, en hoe verder die ondersoek vorder, paniekerig geraak, want die bladsye raak al hoe minder, maar van ‘n einde is daar geen sprake. Dan is daar die ontknoping. Verrassend en blitsig. En waar jy naderhand agterkom jy het die heeltyd op die punt van jou stoel gesit, sak jy terug in jou leunstoel (en as jy rook, kan jy maar ‘n sigaret aansteek) en baai in die nagloed van ‘n goeie spanningsverhaal deur meester Meyer.

Dit is hoekom ons al weer die dae begin aftel na die volgende Deon Meyer en ons gunsteling speurders…

  • Sien uit na ‘n Engelse vertaling van Skorpio vroeg in die nuwe jaar.