Lesersindruk deur Salomé Kotzé
NB-Uitgewers en Human & Rousseau se heruitgawe van Die vyf susters het my aan Eleanor Baker voorgestel. Ek het nog nooit een van haar titels gelees nie, nie eers die wat sy as Alex Muller geskryf het nie.
Boonop is Die vyf susters die eerste titel in ’n reeks van vyf ligte spanningsverhale wat tussen 1998 en 2003 deur die gewilde skrywer onder die skuilnaam Alex Muller geskryf is, maar ek het nog nie gehoor of hulle ook weer uitgegee gaan word nie. Ek hoop so.
As een van drie susters het die titel van die boek dadelik my aandag getrek. Ek is die ousus, maar hopelik nie dieselfde lot beskore as die oudste van die vyf Delportsusters nie. Want sien Rosa is die hoofrolspeler in die moordraaisel toe sy met ‘n skietwond in die kop aangetref word in die huis wat sy met haar vier sibbe deel.
Dit dek die tafel vir ‘n heerlike, agteroorsit leesreis waar jy saam met speurder Adriaan Kruger probeer ontrafel wie van die vier susters bloed op hul hande het. Elkeen van hulle is verdagtes, want Rosa was glad nie geliefd nie, en dan kom jy agter daar is nog ‘n paar mense wat van haar sou wou ontslae raak.
Ek het die boek baie geniet en sal sterk aanbeveel vir liefhebbers van die tradisionele whodunit met ‘n goeie skeut humor en so tikkie romanse daarby saam. Al is dit ook net om ‘n blik te kry in die jaar 1998 - die tyd voor selfone, toe ‘n pakkie sigarette R6 gekos het, en as jy ouer as 60 was jy as oor die muur beskou is.