Blou Bloed: koninklike spore in Suid-Afrika
Deur Daniël Lötter
Uitgegee deur Protea Boekhuis
Lesersindruk deur Salomé KotzéWat my die meeste opgeval het van die boek is die lekker gemaklike skryfstyl wat vir sommige mense nogal ‘n moeilike onderwerp kan wees - nie net om te lees nie, maar om te skryf ook. Ek het gesukkel om kop te hou tussen al die markiese, tsaars, kroonprinse en koninklike hooghede en hul bloedlyne wat lees soos ‘n hoofstuk in Eksodus. Maar dit dui op die deeglikheid van hierdie skrywer om nie halfgebakte werk te lewer nie - ek sal nou beslis nie almal in volgorde onthou nie, maar vra my oor die spoor van die Napoleons in Durban of wie ‘n affair met Genl Jan Smuts gehad het, en ek sal vir jou die boek in die hand stop.
Die boek bevat ń skatkis van inligting en het waardevolle geskiedkundige waarde. Ek sê weer die navorsing is uitstekend, want verskeie bloubloediges het deur die eeue heen sterk bande met die land ontwikkel.
Só is daar byvoorbeeld die Nederlandse prinses Irene van Lippe-Biesterfeld, met haar groot liefde vir die Karoo, wat hard baklei het teen skaliegas-ontginning deur die Nederlandse petroleummaatskappy Shell.
En skindernuus... was George Rex, die stigter van Knysna, ‘n seun van koning George III van Engeland? Het jy geweet die kroonprins van Albanië praat Afrikaans? Inderdaad. Baie interessante leesstof. Wat ek wel gemis het was die insluiting of ten minste net verwysing na prinses Charlene van Monaco. Sy het dalk nie blou bloed nie, maar is in ons hedendaagse bestaan seker die naaste wat Suid-Afrikaners aan ‘n adelike verbintenis kan kom.
Net aan te beveel vir lesers wat belangstel in die koninklikes en die geskiedenis van SA.