Wanneer jy deur iemand fisiek te lyf gegaan word, kan daardie persoon deur die gereg vervolg en gestraf word.
Jy kan mediese hulp kry vir die beserings en wonde wat jy opgedoen het. Na ‘n week of drie begin daardie beserings genees en na nog ‘n rukkie het die kneusplekke vervaag en selfs die meeste letsels het begin genees. Wanneer iemand jou egter met geniepsige woorde verniel, is dit ‘n heel ander storie.
Mense kan dalk sien hoe jou gedrag/houding/gemoedstoestand verander, maar daar is nie sigbare beserings nie. Jy kan nie ‘n pleister daarop plak of ‘n verband daar om draai nie. En in plaas daarvan dat die ‘kneusing’ op jou wese met tyd vervaag, groei dit; bly dit rou en neem meer en meer van jou in beslag.
Jy kan ‘n sielkundige of ‘n psigiater gaan sien, ja, maar die hulp wat jy gaan kry, is grotendeels om die seer te leer absorbeer, dit te hanteer. Die seerkryboom kan afgekap word, maar sy wortels bly. En hulle hou nooit regtig op met groei nie; dieper en dieper, op soek na ‘n nuwe voedingsbron.
In skrywer Mariël le Roux se Donkertyd - My naam is Tina, trek seer sy donker gordyn dig rondom ‘n Bolandse gesin. Pa Servaas haal sy bitterheid oor sy eie aaklige grootwordjare uit op sy twee kinders, Sarel en Tina. Servaas is ‘n boelie wat sy eie bloed vertrap en verguis en genot daaruit put om Sarel en Tina met sy woorde te verniel.
Wanneer Tina oud genoeg is, gaan verpleeg sy. Sy probeer om aan ander gene-sing te bring in ‘n poging om salf aan haar eie siel te smeer - maar sy ontdek gou dat dit nie so maklik is om jou verlede te ontsnap nie - die donker het ‘n manier om jou altyd weer in te haal.
Donkertyd - My naam is Tina is Mariël se sesde, en laaste roman. Die gewilde skrywer, wat bekend was vir haar komplekse stories oor disfunksionele families, is in November 2023 oorlede kort nadat die boek voltooi is.
Die boek word deur LAPA/Penguin Random House SA uitgegee. Vir meer inligting oor Donkertyd - My naam is Tina, besoek www.penguinrandomhouse.co.za