
deur Wilna Roux | Uitgegee deur NB Uitgewers
‘n Splinternuwe Afrikaanse hofdrama deur debuutskrywer en prokureur Wilna Roux word die maand bekendgestel. Die ooggetuie is ‘n pakkende roman wat regsaspekte slim met speurelemente verweef, en beloof om jou op die punt van jou stoel te hou. Waaroor gaan dit? Julia is die kamerprokureur in Izak Marais se regspraktyk op Worcester. Sy het nooit gedink sy sal terugkom na haar geboortedorp nie, maar hier is sy.
Wanneer oom Sakkie die oggend voor ’n groot hofsaak ineenstort, moet Julia dringend sake beredder.
En dit ten spyte van die feit dat sy gesweer het sy sit haar voete nooit weer in ’n landdroshof nie. Hul kliënt, Lizanne Malan, aangekla van moord op haar eggenoot, is briesend dat die saak nou deur ‘n junior vennoot behartig moet word. En om dinge nog meer te kompliseer, is Julia heimlik daarvan oortuig dat Lizanne wel skuldig is. Dié pakkende hofdrama speel af in die Boland.