My big fat Greek taverna deur Costa Ayiotis (published by Melinda Ferguson Books)
Lesersindruk deur Salomé KotzéDié boek moet jy liefs nie op ‘n honger maag lees nie. Veral nie as jy ‘n voorliefde het vir Meditereense cuisine nie - die knoffel, olywe, suurlemoen en knoffel beskrywings van die verteller het my mond soms laat water. Dié boek is ‘n terugblik of memoir op Costa Ayiotis se tyd as eienaar van die Lemonia restaurant in Houtbaai. Dit is ‘n tydperk in die laat 1990’s en vroeë 2000s wat hy saam met sy vrou, en nog ‘n egpaar, die restaurant uit niks begin het nie. Sy vertellings is humoristies van aard en hy skryf eerlik oor die lag en traan en bloedsweet wat daar in gaan om jou eie restaurant te bedryf - ‘n tyd wat hy ook beslis nie wil oorhê nie. Hy skryf hy sal eerder sy kop stukkend teen ‘n muur stamp as om weer ‘n restaurant oop te maak.
Hy skryf nogal hy het die restaurant in ‘’’n oomblik van malligheid geopen’’.
Maar die herinneringe wat hy aan die eetplek het en die personeel en (soms moeilike) kliënte van wie baie vriende geword het, sal hy altyd koester.
Ek het sy skryfstyl geniet, en glo dit sal heelwat aanklank vind by die leser wat ook daarna hunker om uit die ‘rat race’ te ontsnap.
Ongelukkig is daar geen foto’s in die boek nie, wat vir my nogal afbreuk gemaak het aan die vertellings, veral as mens ingestel is op die visuele.
Nadat jy die boek gelees het, sal jy altyd spyt wees jy het nooit by die Griekse taverna in Houtbaai geëet nie. Ek het die boek baie geniet.