Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die masker is af en die ware Petro Kotze-Odendaal is nou vry. Weg is die langhaar meisiekind wat bang is vir haar dronk pa, kwaad is vir haar ma en skaam kry oor hul armoede. Haar boek, Wanneer die Krieke Stil Word, is pas deur Naledi Uitgewers uitgegee. Sonder doekies omdraai skryf Petro oor haar grootwordjare op die myndorp. Waar sy mens geword het en ook waar sy haar man en die pa van haar seun ontmoet het. Die titel van die boek is juis verleen aan die vreesaanjaende angs wat sy ervaar het as sy in die nag moes vlug voor haar eggenoot wat hoog op dwelms gedreig het om haar dood te maak.

Met hierdie boek, sê Petro, is sy op 51-jarige ouderdom reg om haar duiwels te konfronteer. “Dit was nie ‘n maklike boek om te skryf nie, nog minder vir die mense naaste aan my om dit te lees. Ek moes sekere ervarings vir die eerste keer met my seun deel en dit was vir my ma moeilik om te aanvaar dat ek daaroor skryf,’’ gesels sy.

Die skryfproses het drie jaar gelede begin by ‘n skryfskool wat Stefaans Coetzee aangebied het. Sy was eers vuur en vlam, maar haar moed het haar begewe en die manuskrip is iewers in ‘n laai gebêre. 

Onder die aanmoediging van Coetzee wat as haar mentor opgetree het, het sy verlede jaar weer begin skryf en toe is die boek aanvaar. Sedert haar boekbekendstelling in Klerksdorp op 3 Junie waar sy 70 boeke verkoop het, reis sy oral heen om oor Wanneer die krieke stil word te gesels.

Op Dinsdagaand 10 Junie word ‘n boekbekendstelling by die Snowflake in Potchefstroom gehou en op 12 Junie kan kykers haar op KykNet se Groot Ontbyt te sien kry.

Petro is versigtig optimisties oor die ontvangs van haar boek, veral uit plaaslike geledere. “Ek skryf oor my lewe en my hart. Oor dit wat agter toe deure gebeur het, en mense nie eintlik oor praat nie. Maar ek skryf oor die siekte van ons tyd; molestering, verslawing, woede, armoede. Ek is nogal gespanne oor van die detail, maar ek weet dit wat ek geskryf het, het my vrygemaak om die regte Petro te kan wees, en nie meer agter maskers te skuil nie.’’

Die boek is by jou naaste boekwinkel beskikbaar.

Petro is pastoor en stigter van die Voetlig-gemeente op Orkney.