
Die (vreemde) einde van ‘n koerant
Deur Barnard Beukman (uitgegee deur Naledi)
Lesersindruk deur Salomé Kotzé
As jy ook die heengaan van die papierkoerant betreur is hierdie boek ‘n moet-lees. Eintlik behoort elke leser hierdie boek op hul boekrak te hê. Dit is ‘n waardevolle stukkie geskiedenis - nie net beskryf dit die heengaan van koerante nie, maar ook die waarde wat mense aan daardie stukkie papier heg. Beeld se laaste redakteur, Barnard Beukman, het dit reggekry om met hierdie boek die ongelukkige in plaas van vreemde einde van ‘n koerant (Beeld) te beskryf. Op Donderdag 13 Junie 2024 het die nuus op die sake-nuuswebwerf Moneyweb gebreek: Media24 gaan die dagblad Beeld, asook drie ander titels, Rapport, Daily Sun en City Press sluit. Volgens die Moneywebjoernalis Jeremy Maggs, sou “die besluit lesers en die Suid Afrikaanse mediabedryf skok”.
Maggs was reg. Lesers, redaksielede en adverteerders moes toekyk hoe ‘n vreemde en teenstrydige reeks gebeure rondom die sluiting afspeel. In die boek probeer Beukman van die onbeantwoorde vrae beantwoord deur heelwat te onthul van wat in die gange en raadsale van Media24 en Beeld afgespeel het. Hy beskryf die openbare wipplankrit van ses maande, om die koerant te sluit, wat gevolg het.
Agter die skerms het dit tot die afgryse van die maatskappy geblyk dat adverteerders miljoene rande se inkomste aan Media24-publikasies onttrek het. Gevolg-lik het die koppe onder Media24-bestuurslui, wat die koerantsluiting moes bestuur, begin rol. So fel het die openbare diskoers oor die sluiting van Beeld en ander koerante gewoed, dat Media24 se interim uitvoerende hoof, Raj Lalbadhur, dit in ‘n brief aan personeel as die hoofrede aangevoer het waarom die maatskappy nie in 2024 sy halfjaarlikse winsbegroting behaal het nie.
Vir my, as redakteur van ‘n gemeenskapskoerant in Noordwes, moet hierdie boek verpligte leesstof wees vir die koerantbase wat in hul gehoutpaneelde kantore sit en besluite neem oor ‘n koerant se toekoms terwyl hulle nie naastenby bewus is van die simbiotiese verhouding tussen ‘n koerant (lees redaksie) en sy lesers nie. Gewoonlik word dit van die redaksie verwag om die kalf uit die put te haal. “Op ‘n manier is daar egter skynbaar steeds van ons verwag om bloot te bevestig dat alles eintlik goed verloop. Dit het ‘n nuwe vlak van uitdagings geskep oor hoe om personeel in die oë te kyk, om nie eens van lesers te praat nie.’’ (18)
Rooi ligte flikker verder as ek lees ‘’… bestuur was nou in die hande van mense wat koerante bloot as ‘n toevallige nuusplatform gesien het’’. (46)
Behalwe dat die boek oor die einde van die papierkoerant handel, wat genadiglik nog nie op ons gemeenskapskoerante van toepassing is nie, bring Beukman op ‘n wonderlike manier hulde aan die toegewyde lesers van Beeld en Rapport deur die insluiting van lesersbriewe en -pleidooie teen die sluiting van die koerant.
Ek het die boek emosioneel gelees, met die hoop dat hierdie beker nie gou voor my sal verbygaan nie. Ek sal die boek hoog aanbeveel vir koerantlesers wat beter wil verstaan rondom die gebeure wat met die sluiting van Beeld en Rapport as gedrukte koerante saamgegaan het.