
Die moord op Liezel de Jager
Deur Anena Burger (uitgegee deur Lapa Uitgewers)
Lesersindruk deur Salomé Kotzé
As jy ‘n leunstoel speurder is en ware misdaad saam met jou oggendpap geniet, dan is die boek vir jou geskryf. Liezel de Jager se moord en wat daarna gebeur het, is nie onbekend aan die meeste van ons nie. En as jy soos bo genoem, hou van ware misdaadstories, moet hierdie boek op jou leeslys kom. Dit is vars van die drukker en behoort binnekort in ‘n boekwinkel naby jou beskikbaar te wees. Op 13 Oktober 2021 is Suid-Afrika tot stilstand geruk deur die nuus oor dominee Liezel de Jager, geliefde leraar van die NG Kerk Suidkus in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, wat in die oprit van die pastorie vermoor is toe sy terugkeer van haar daaglikse oggenddraf. Nog vreemder gebeure volg in die dae en jare na haar moord.
Haar man, Werner, verdwyn skielik spoorloos en word later in ’n bedenklike toestand in ’n suikerrietplantasie gevind. Hy vermoed dat hy moontlik deur Liezel se moordenaars aangeval is.
Benewens verskeie ander amper-noodlottige gebeure rondom Werner, is hy later ook in ’n ongeluk betrokke waar nog twee vroue dood is. Om alles te kroon, sloer die polisie twee jaar lank voordat hulle met die moordondersoek begin. gemeenskap gehad het, so wreed weggeruk kon word.
Intussen voer Liezel se ouers ’n volgehoue stryd om geregtigheid vir hul dogter te kry. Dit loop uit op ’n suksesvolle hofsaak teen die minister van polisie en die Suid-Afrikaanse Polisiediens, met die gevolg dat Werner weens die moord op sy vrou in hegtenis geneem word, maar later onder misterieuse omstandighede in die hospitaal sterf.
Die moord bly onopgelos.
Al weet jy as leser al hierdie inligting, is dit meesterlik bymekaargesit deur Anena Burger in ‘n lekkerlees boek. Sy is ‘n joernalis en fotograaf in die Noordkaap en het die geliefde dominee De Jager geken soos ‘n vriendin. Sy het daarin geslaag om hierdie boek te skryf met die objektiwiteit van ‘n joernalis, maar ook met die hart van ‘n vriendin wat net so swaar kry om die gebeure te verwerk soos die talle ander mense wat nog baie vrae het na Liezel en Werner se dood.
Ek kon die boek nie neersit nie.