Fields marked with an asterisk (*) are required.
Name *
Username *
Password *
Verify password *
Email *
Verify email *

Community News
Typography
  • Smaller Small Medium Big Bigger
  • Default Helvetica Segoe Georgia Times

Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Geliefde skrywer en akademikus, wyle Hans du Plessis sou op 15 Januarie sy tagtigste verjaardag gevier het. Du Plessis is in Oktober verlede jaar skielik oorlede terwyl die laaste roman waaraan hy gewerk het nog in produksie was. LAPA Uitgewers (’n druknaam van Penguin Random House) het verlede week bekendgemaak dat die roman, Klein Wonderwerk, postuum bekendgestel sal word in Februarie.

Klein Wonderwerk vertel met deernis die verhaal van ’n ongewone vriendskap tussen ’n ou man en ’n jong vrou en ondersoek kwessies soos seksuele misbruik, veroudering, vergiffenis, aanvaarding en hoop. Petrus wil sy kleinseun opspoor sodat hy sy geliefde plaas aan iemand kan nalaat. Anina is ’n maatskaplike werker wat as kind al deur mans misbruik is. Petrus vertrou nie jong vroue nie. Anina haat ou mans. Tog besluit hulle om mekaar te help.

Maar hoe oorkom jy jare se seer en wantroue? En hoe vind jy ’n aangenome kind as die ma doelbewus haar spore doodgevee het? Kan twee generasies wat op verskillende maniere en plekke mishandel is, mekaar ooit daarvan oortuig dat vergifnis die enigste weg na vryheid uit hul wrokkigheid is?

Marida Fitzpatrick, fiksie-uitgewer, sê oor die boek: “Klein wonderwerk is vir ons by LAPA bittersoet. Die boek se verskyning sou met prof Hans se 80ste verjaardag saamgeval het. Ons het dit doelbewus so beplan omdat dit ’n spesiale dubbele viering vir hom sou wees. Vandag is ons hartseer dat hy nie hier is om hierdie groot mylpaal te kan geniet nie, maar ons is ook bly en bevoorreg dat ons hierdie laaste boek van hom kan uitgee ter ere aan hom en sy yslike en belangrike bydrae tot Afrikaans. Ons vier vandag prof Hans se lewe en sy wonderlike skryfwerk.”

Janita Low, redakteur van die boek, vertel: “Dit was ’n groot voorreg om met prof Hans saam te werk. Die verhaal se temas het hom na aan die hart gelê en dit was vir hom veral belangrik om Anina se verhaal met egtheid en empatie te vertel. Ek is bly hy het nog kans gehad om die manuskrip af te rond voor sy dood.”

Du Plessis se skeppende werk is ’n skatkis van Afrikaanse letterkunde. Sy oeuvre sluit ses digbundels, drie jeugromans en tien romans in, wat elkeen ’n unieke bydrae tot die Afrikaanse literêre landskap gemaak het. Sy gedigte, rubrieke en kortverhale het talle lesers geraak en geïnspireer. Verder is ses dramas en musiekspele uit sy pen by verskillende kunstefeeste opgevoer, wat sy veelsydigheid as skrywer beklemtoon.

Sy talent en toewyding is met verskeie toekennings bekroon, insluitend die CR Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk.

Klein Wonderwerk is vanaf Februarie in boekwinkels en aanlyn beskikbaar. Die roman sal op 13 Maart in Potchefstroom bekendgestel word. Die geleentheid sal ook hulde bring aan Du Plessis en die ryke erfenis wat hy agter gelaat het. Meer inligting hieroor sal later bekendgemaak word.