Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Die Toekafees wat die afgelope naweek deur die Triest-sentrum aangebied is, was ‘n reuse sukses. Dit was veral die laer ossewaens wat die aandag getrek het, met ‘n regte boere gesin kompleet in Voortrekkerklere wat die toeskouers se oë laat rek het. Johnelle de Wet en haar ouers het met hul ossewaens, verskeie oudhede en boereresepte opgedaag om aan feesgangers ‘n blik te gee op die lewenstyl van die Voortrekkers tydens die Groot Trek.
Die De Wets woon in die Ottosdal omgewing.
Johnelle, haar twee kinders Bastiaan en Marinica, en haar ouers, Pieter en Marina Breytenbach, was almal geklee in tradisionele Voortrekkerdrag. Johnelle sê dat hul jaarliks die laaste naweek van Oktober ‘n groot boerefees het. Mense kan vir die hele naweek kom kamp en daar word op die tradisionele wyse fees gehou van die Vrydagaand tot die Sondagmiddag.
Hulle het vier osse saamgebring wat ‘n ossewa getrek het waarop feesgangers kon ry.
Daar was ook boerbeskuit en boerebrood saam met moerkoffie bedien. Behalwe vir dit was daar ook pap en kaiings, roosterkoeke en ander lekkernye verkoop om aan te smul. Die Wes-Transvaal ou motorklub het hul motors uitgestal en die uitstalling van trekkers uit vervloë dae was ook ‘n gunsteling. Daar is ook ‘n demonstrasie gelewer van hoe om botter en kerse te maak.