Klerksdorp Midweek, Klerksdorp - Kom vier die koms van die lente by die Pick n Pay stalletjiemark wat die einde van die maand gehou word. Die mark vind op Saterdag 30 Augustus van 09:00 tot 14:00 plaas. Volgens die organiseerder, Tinus van Staden, het 55 uitstallers reeds hul staanplek bespreek vir die mark. “Kom kry jou lentetuin gereed met die groot verskeidenheid vetplante, tuinplante, tuinbakke en potte, klippies en skoon kraalmis wat te koop sal wees.
Kom smul aan die heerlike potjiekos, worsbroodjies, kerrie-en-rys, rib- en hamburgers, pannekoek, jaffels en vele meer,” nooi Tinus.
Volgens hom kan mense lekker kom snuffel, want daar sal ‘n groot verskeidenheid items wees wat in almal se smaak sal val.
Die uitstallers sal hul stalletjies versier in lentekleure en hulle beloof om die mark baie kleurvol te maak.
Daar is nog ‘n beperkte aantal staanplekke beskikbaar.
Vir navrae en stalletjiebesprekings skakel Tinus by 083 294 8077.