GEMSBOK-UPINGTON: Hoërskool AJ Ferreira se Klas van ‘94 het onlangs ‘n baie geslaagde reünie gehou. Dit was die eerste matrieks sedert 1988 wat ‘n reünie gehou het.
Die geleentheid het vriende van verskeie stede bymekaar gebring en dit was werklik ‘n onvergeetlike ervaring. Die reünie was ‘n viering van hul gedeelde herinneringe, vriendskappe en gemeenskap.
“Ons het twee dae spandeer om stories en herinneringe van die ou dae uit te ruil.
Dit het gepaard gegaan met baie lag, vreugde en ‘n gevoel van behoort.
Ons wil graag ons dank uitspreek teenoor almal wat hulself finansieel tot hierdie reünie verbind het.” Almal se ondersteuning en harde werk het hierdie geleentheid moontlik gemaak.
Mnr. Jerry Saal, een van hul oud-onderwysers, onthou die leerlinge van die 1994-klas nog baie goed. Die Klas van ‘94 was ‘n goeie oesjaar en ‘n hoogtepunt van sy onderwysloopbaan. Hy het daardie jaar met die matriekuitslae ‘n Nasionale Meriete toekenning ontvang.