GEMSBOK-UPINGTON: Daar word ‘n groot Gospel prysuitdeling vir 26 September in Kimberley beplan.
Dr. Dorothy Mazingani, wie al verskeie Gospel pryse gewen het, het haar daartoe verbind om Gospel-kunstenaars in die Noord-Kaap te vereer.
Sy en haar span is besig om die Diamond Gospel Music Awards, wat in die Noord-Kaap Teater aangebied gaan word, te reël.
In ‘n onderhoud met die Gemsbok het Dorothy gesê, “Gospel kunstenaars in die Noord-Kaap word nie herken nie. Vir ander genre is daar toekenningseremonies, maar nie vir Gospel kunstenaars nie.
Dorothy is onder andere, verlede jaar aangewys as die beste vroulike Gospel kunstenaar by ‘n funksie wat in Kaapstad gehou is.
Sy noem dat almal in die Gospel-bedryf kan inskryf vir die kompetisie. Daar is 34 afdelings. Skrywers, digters, rymkletsers, Christelike sangers, radio-aanbieders ens, kan inskryf. Nominasies het reeds geopen en kan tot 15 Mei gedoen word.
Daar is so baie Gospel kunstenaars in ons provinsie wat beloon moet word. Sy beplan om hierdie seremonie ‘n jaarlikse instelling te maak. Omdat sy self ‘n boorling van die Noord-Kaap is, is hierdie saak vir haar baie belangrik.
“Die prysuitdeling word in Erfenismaand (September) gehou, omdat hierdie genre van sang, ons erfenis is,” sê Dorothy.
Die inskrywingsfooi beloop R350.00 per persoon. Daar word ook ‘n groot Gospel konsert vir Julie in Upington beplan. Sangers in die ZFM- distrik wat hieraan wil deelneem, kan Daniel Olivier
by 074 701 6344 skakel.
“Dit is alles om geld in te samel sodat die kunstenaars na Kimberley kan reis, ook om vir hul verblyf te betaal,”se sy.
“Ons is hard besig om by besigheidseienaars en staatsinstellings geld in te samel sodat ons die kunstenaars wat na die seremonie moet gaan, kan ondersteun met hul kostes.
Vir meer inligting kan dr. Dorothy Mazingani geskakel word by 074 055 3604.