GEMSBOK-PRIESKA: Doornfontein Landbouvereniging op Prieska bied op 27 Maart, in samewerking met Beefmaster Voerkrale buite Christiana, ’n boeredag aan op Prieska.
Die dag spruit uit die behoefte van talle beestelers wat meer inligting wil hê oor die vereistes wat voerkrale stel aan die soort bees wat hulle wil koop en die bestuur van Doornfontein landbouver-eniging het besluit om hierdie inligtingsdag aan te bied.
Beefmaster Voerkraal is een van die gereelde aankopers van beeste in hierdie omgewing en soos alle voerkrale het hulle bepaalde vereistes hoe die dier moet lyk om inpas te wees met die standaard wat Beefmaster weer aan abattoirs verkoop.
Hierdie standaarde word hoofsaaklik deur die verbruiker gestel en die voerkrale het nie veel van ’n keuse as om puntenerig te wees oor wat hulle aankoop van diere nie.
Voerkrale is ook die grootste verskaffer van rooivleis aan abattoirs en daarom moet hulle streng voorwaardes en standaarde handhaaf.
Tydens hierdie boeredag gaan kenners van Beefmaster die boere inlig oor die vereistes wat gestel moet word.
Hierdie inligtingsdag gaan op 27 Maart in die Prieska Rolbalklub gehou word en drie sprekers gaan met die boere gesels oor die volhoubaarheid van beesboerdery in die Karoo.
Jaco Liebenberg gaan gesels oor verskillende beesrasse en die voor- en nadele van elk.
Dr. Shaun Morris, ’n veearts, gaan gesels oor bek-en-klouseer en ander dieresiektes wat in die omgewing voorkom en hoe om dit te hanteer, terwyl Roelie van Reenen met die boere gaan gesels oor markte vir rooivleis en voorwaardes wat hierdie markte weer van die abattoirs stel.
Belangstellendes wat die dag wil bywoon kan met Koos du Pisanie by sel 083 457 8145 of met Philip Roux, die agent van Beefmaster op Prieska, by sel 079 504 5874 skakel.