Koos Josob of soos hy bekend staan, Oom Koos, is voorwaar die ikoon van Richtersveld Nasionale Park.
Oom Koos het sy loopbaan in SANParke in 1993 as hekwag by Sendelingsdrift wat geleë is in |Ai-|Ais/Richtersveld Oorgrenspark. Hy is later daardie selfde jaar aangestel as veldwagter en het sy loopbaan in dieselfde Park waar hy begin het, in 2024 voltooi.
Hierdie ikoon het sy lewe lank in Richtersveld gebly en ook geboer baie lank voordat die Park geproklameer was in 1991. Sy liefde vir SANParke en om die natuur te bewaar vir die nageslag het net verder oor die jare gegroei en later was Oom Koos die gekose veldgids wanneer gaste meer oor die omgewing wou weet.
Oom Koos glo aan opregtheid en het die volgende boodskap vir sy oud-kollegas asook diegene wat ‘n loopbaan in Suid Afrikaanse Nasionale Parke oorweeg: “Maak geduld deel van jou persoonlikheid, kweek geduld, wees geduldig en daardeur sal jy sukses bereik. Hou aan, hou goeie moed, dit wat jy soek, sal jy kry.”
Hierdie ikoon het diep voetspore in Richtersveld Nasionale Park agter gelaat en gaan altyd onthou word as die nederige Richtersvelder en sy liefde vir die natuur.
Die Ariede Streek wens Oom Koos voorspoed toe met sy aftrede en sal hom altyd onthou en eer as een van die eerste plaaslike inwoners wat ‘n verskil in bewaring van die natuurlike omgewing kom doen het deur saam met Suid Afrikaanse Nasionale Parke ‘n pad te stap.