Geagte Redakteur
Net buite Keimoes op die Upington pad is baie groot wingerd aangeplant om voorheen benadeelde boere te bemagtig.
Die probleem voorhande is dat die wingerde wat goed gegroei en volledig opgelei is, besig is om van dors te vrek.
Nagenoeg R55 miljoen is blykbaar met verwagtinge aan die projek spandeer.
Omdat belastingeld betrokke is, sal dit waardeer word as iemand asseblief uitsluitsel gee waarom toegelaat word dat honderde hektaar wingerde wat vir n goeie doel geplant is, nou van dors moet vrek. Dis vreeslik om te aanskou.
Gerugte doen die rondte dat die waterbelasing nie betaal word nie, dus is die water afgesny.
Na verneem word is Dawid Kruiper Munisipaliteit in Upington die duurste in die land met genoeg personeel. Ten spyte van hierdie groot personeelkorps by die plaaslike munisipaliteit is Upington dorp in n kommerwekkende toestand met vullis wat oral rondlê in parke, veral rondom Kalahari Mall, asook die verfraaiings van ons dorp se hoofroetes. Talle toeriste is verplig om deur Upington te beweeg en ook om by ons sakesentrums besigheid te doen.
Die eerste opmerkings wat ons van toeriste moet aanhoor is die geweldige agteruitgang van ons dorp. Dit kan maar ontken word, maar die spreekwoord sê, in elke storie is daar n stukkie waarheid.
Dit is ook prysenswaardig dat daar belastingbetalers is wat omgee vir ons dorp
So byvoorbeeld word rommelhope in woonbuurte omskep in tuine en boonop deur hulself onderhou. In Upington self word slaggate van tyd tot tyd deur privaat inisiatief op eie koste herstel, terwyl die verfraaiing van ons dorp ook agterweë gelaat word.
Die nuutste is dat inwoners self die onooglike dooie gras op eilande in die hoofpaaie binne Upington uithaal en vervang met meerjarige plante asook sorg dat dit natgemaak word, wat n reuse verbetering is.
Aan almal betrokke sê ons baie baie dankie, dit lyk pragtig. Ons sien dit raak en waardeer dit.
Na wat verneem word is die Valke besig met ‘n ondersoek by die Dawid Kruiper Munisipaliteit, ons vertrou dat die uitslag van hierdie ondersoek ook aan belastingbetalers bekendgemaak sal word.
- Willem (Noord-Kaap)