GEMSBOK-KATHU: ’n Boer van Kathu in die Noord-Kaap wat 1 200 ha weiveld verloor het in die wegholveldbrande wat die streek vandeesmaand geteister het, glo pogings deur boere en niewinsorganisasies wat met owerhede werk, het gehelp om die skade te verminder.
Fred Cawood, wie se plaas 3 000 ha is, het nog vee getel, maar dink nie hy het enige diere in die brand verloor nie. Sy plaas se naaste punt vanaf die noordelike grens van Lohathla is sowat 5 km en hy boer hoofsaaklik met Bonsmara-beeste. Hy het gesê die windspoed het die brand wat Vrydag naby die Khumani- en Beeshoek-myne ontstaan het, vinnig vererger.
Johan Rossouw, hoof van John Taolo Gaetsewe-munisipaliteit se rampbestuursentrum, het vroeër aan Sunday Times gesê die brand van die myne het die N14 oorgesteek en deur myngronde en plase versprei, en toe tot in Lohathla militêre basis. Ses soldate is Vrydag dood en drie is beseer.
Cawood het gesê die brand het Saterdag omstreeks 01:00 na sy plaas versprei, maar deur die pogings van medeboere, vrywilligers wat saam met ‘n sekuriteitsmaatskappy en munisipale spanne werk, is die brand net voor 08:00 geblus.
“Die wind was baie sterk na ons kant toe vanaf Lohathla, maar met die hulp van die Rhino Security-maatskappy, my ouens en my vennoot op die plaas asook brandbestryders van die munisipaliteit het ons daarin geslaag om die brand te blus,” het hy gesê.
Hoewel hy byna die helfte van die weiveld verloor het, het hy gesê sy vee sal op die oorblywende gedeelte wat onbeskadig is, kan wei.
Hy het beeste van twee ander boere, wie se grond in Februarie tydens ‘n veldbrand afgebrand het, gehuisves op die gedeelte van sy plaas wat die naweek gebrand het. Die diere kon betyds geskuif word.
“Daardie boere het Vrydagoggend vroeg hul beeste uit my plaas gehaal.”
Cawood, wat sedert 1965 in die omgewing boer, het gesê: “Ons sal ekstra voer moet koop. Hierdie tyd van die jaar, in baie gevalle voor die reën, is die vee nie in ‘n goeie toestand nie. Dit is net na die winter. Jy kan nie op daardie grond begin wei ná die reën voor dit uitgegroei is nie, anders verwoes jy jou weiding.”
Andries Schoeman van Rhino Security en die RPU-reaksiespan, ‘n NRO wat saam met die boeregemeenskap in die streek werk, het gesê die brand het Vrydag baie vinnig versprei.
“Die probleem was die wind en die brand het na baie rigtings versprei,” het hy gesê.
Hy het gesê die boeregemeenskap, insluitend van Olifantshoek, brandbestryders van die munisipaliteit en die mynmaatskappy het saamgewerk totdat die brand onder beheer was.
“Ons het twee bakkies en twee vragmotors wat help wanneer daar ‘n brand is. Ons doen dit as NWO’s en ons maak staat op borge. Al die boere en die brandweer het gehelp, ek dink vir Vrydag en Saterdag tot Sondagoggend. Ek dink ons het meer as 50 voertuie gehad wat in totaal gehelp het,” het hy gesê en bygevoeg die myn het met watertenkwaens bygestaan.
“Dit is nie net gras hier [Kathu] nie. Dit is baie bossig so dit is moeilik om te ry. Ek weet nie wat ander mense se koste was nie maar ons diesel alleen was R15 000 vir die vier voertuie. Dit is sonder petrol vir die enjin wat water pomp.”
Willie Aucamp het gesê die streek is droogtegevoelig.
“Ons is aan die einde van die winter en dit het nog nie gereën nie. Die gras is baie droog. Die omvang van die brand daar was aaklig en heelwat boere is negatief deur dié brand geraak. Hulle het hul weiding verloor en hulle moet nou alternatiewe veld kry waar hul beeste en skape kan wei.
“Brandbestryders, spanne van burgerlike organisasies, boere-organisasies wat brandbestrydingspanne begin het, individuele boere was daar met hul eie brandbestrydingstoerusting. Dit het baie gehelp.
“As dit nie vir daardie mense was wat in die eerste linie was en letterlik vuur bestry het nie, sou die skade veel erger gewees het.”
Die Noord-Kaapse provinsiale regering is gevra om sommige boere met voer te help.
Aucamp het gesê NRO’s in die streek het ook ingespring met aanbiedinge van hulp. “Ons kry oproepe van mense in Kimberley, Upington, mense help en ons wil ons dankbaarheid uitspreek teenoor mense wat hul harte oopmaak.”