GEMSBOK-UPINGTON: Die Kalahari Oumotorklub is in 2009 gestig met ‘n totaal van 21 stigterslede.
Ses van hierdie stigterslede het intussen erelede van die KOMK geword. Hulle is Toit Fouché, Trompie Burger, Ferdie Postma, Neels Goussard, Kobus van der Walt en Theo Wilcox.
Alhoewel sommige van hierdie erelede nie meer so mobiel is nie maar steeds ‘n aktiewe belangstelling in die aktiwiteite van die KOMK het, is daar besluit om as blyk van waarde-ring vir hulle jarelange bydrae aan die KOMK ‘n spesiale ontbytrit op Saterdag 15 Maart 2025 te onderneem, waar hulle trakteer is om saam met ander lede in hulle veteraanmotors te ry en ‘n ontbyt in die natuur te geniet.
Oom Trompie was oudergewoonte na die ontbyt gereed om vir elkeen ‘n lekkertjie uit te deel.
Iets wat die geleentheid verder baie spesiaal gemaak het, is dat die oudste lid van die KOMK, oom Toit Fouché (88) en die jongste lid van die KOMK, Roné van der Merwe (19), saam die ontbytrit bygewoon het. Toevallig was oom Toit en Roné se oupa, Carel van der Merwe (88) destyds studentemaats wat saam onderwys studeer het en hulle behou steeds kontak.
Oom Toit word beskou as die vader van die KOMK se betrokkenheid by die George Motorskou waar hy 20 jaar gelede die leiding geneem het met die reëlings dat lede van die KOMK die lang pad na George aandurf om hierdie skou by te woon.
Dit is welbekend, veral onder die ouer lede van die KOMK, dat oom Toit uiters behendig is met die maak van braaibroodjies waar almal deesdae daarna streef om dit op dieselfde standaard te maak.
Dit het ‘n instelling by die KOMK geword dat lede gereëld op Saterdagoggende informeel bymekaarkom en met hulle veteraanmotors in ‘n rigting ry – gewoonlik ‘n ent op die pad na Askham of na die Nakop grenspos. Hierdie informele geleentheid het al selfs die naam van “Jurie trip” gekry omdat Jurie Schneider die inisieerder van hierdie instelling is.
Dit is moontlik dat daar vete-raanmotor entoesiaste is wat graag by die KOMK betrokke wil raak.
Belangstellendes kan die voorsitter, Michael Holland-Muter kontak by 082 372 3472, of vir die sekretaris, Jurie Schneider, by 082 578 0899.